Local newsNews

Tzaneen Sakekamer vereer lede

DIE JAARLIKSE prestige toekennings van die Tzaneense sakekamer vind volgende Vrydag (17 April) oor middagete by Hotel@Tzaneen plaas.

Tydens die funksie word die omgewing se top entrepreneur, die besigheid wat uitsonderlike diens lewer, die top bestuurder, top openbare amptenaar en verskeie ander toekennings gemaak. Meriete sertifikate vir inwoners wat buitengewone diens aan die gemeenskap lewer word ook oorhandig.

Volgens Annette Coertzen, voorsitter van die Sakekamer, is die doel van die toekennings om erkenning aan suksesvolle entrepreneurs te gee, goeie dienslewering aan te moedig en te beloon en om dank te betuig aan mense wat opofferings maak in belang van die breë gemeenskap.

Die middagete sal ook dien as die maandelikse ete-vergadering van die Sakekamer en lede sowel as nie-lede is welkom.

Koste beloop R100 per persoon en sluit die ete en wyn in. Vir besprekings kan Solet geskakel word op 083 280 9723.

Intussen het Coertzen ook belangrike datums vir die res van die jaar aangekondig. Benewens volgende Vrydag se prestige toekennings word daar ook ‘n bierfees vir Oktober beplan, ‘n ete op Letsitele word in Junie beplan, gemik op boere van die omgewing terwyl Junie ook die maand gaan wees wanneer die Afrikaanse Handels Instituut (AHI) se provinsiale kongres op Tzaneen aangebied word wat sal saamval met ‘n toerisme-simposium wat sal fokus op Limpopo-provinsie as ‘n korridor na die res van Afrika en in besonder die Krugerwildtuin.

Coertzen het besighede, wat nog nie lede is nie, aangemoedig om by die Sakekamer aan te sluit. Lidmaatskap groei bestendig en hou baie wye voordele in. Solet, Annette of enige ander bestuurslid kan vir meer besonderhede geskakel word.

Related Articles

Back to top button