Wallie ons trots

WALLIE Coetsee, een van die belowendste gholfspelers wat die Tzaneen-omgewing nog opgelewer het, het die naweek tonge landswyd los gehad met uitmuntende spel in die Joburg Open wat op Royal Johannesburg en Kensingtonbaan gespeel is.

Coetsee (42) het vir twee rondes van die internasionale toernooi, wat deel is van die Europese beroeps-reeks, voorgeloop en uiteindelik tweede geëindig saam met ‘n paar ander spelers.

Sy vertoning in die laaste ronde was veral indrukwekkend omdat hy onder groot druk gespeel het en bitter ongelukkig was om nie ‘n handvol meer voëltjies en selfs arende op sy telkaart aan te teken nie.

Wallie, seun van Ockert en Loon Coetsee, het op ‘n heelwat jonger ouderdom reeds besondere talent gewys en vroeg ‘n paar toernooie ingepalm.

Dit lyk egter asof sy blomtyd nou eers aangebreek het en hy skryf dit grootliks toe aan ‘n besluit om hom by ‘n gholfbaan in Jeffreysbaai saam met sy gesin te gaan vestig.

Hy het tot voor die Joburg Open R3,1miljoen se prysgeld ingepalm en twee toernooie gewen in 21 jaar as beroepspeler.

Die wentjek vir die naweek se toernooi was R3,2miljoen en die geleentheid vir direkte toelating tot die Britse Ope by St Andrews later vanjaar.

Die Britse speler, Andy Sullivan, het die toernooi gewen, maar niemand het meer aandag getrek as die oud-Tzaneener nie.

Sy vertonings vorentoe sal gewis met groot belangstelling gevolg word.

Exit mobile version