Nuwe toerisme sentrum dalk in pyplyn

Die moontlikheid van 'n Woodbush Inligtingsentrum kan dalk binnekort 'n werklikheid word en sal beslis groot voordele vir toerisme op plaaslike sowel as internasionale vlak teweeg bring.

Die moontlikheid van 'n Woodbush Inligtingsentrum kan dalk binnekort 'n werklikheid word en sal beslis groot voordele vir toerisme op plaaslike sowel as internasionale vlak teweeg bring.

Verskeie rolspelers, o a die SAFCOL-groep en Komatiland Forests (KLF) het op 17 Februarie vergader om die voorstel van so 'n sentrum by die Woodbush oornaghut in die Woodbush plantasie, te bespreek.

Volgens Chris de Beer, 'n senior personeellid van KLF sal die totstandkoming van so 'n sentrum verskeie voordele vir die omgewing inhou. Nie net sal toerisme in die Magoebaskloof omgewing 'n reuse inspuiting kry nie, dit sal ook die nodige relevante inligting aan toeriste bied.

Die sentrum word beplan met die doel om o a historiese, botaniese, dierkundige sowel as ander inligting in die vorm van 'n brosjure of d m v apps aan toeriste te verskaf .

Dit kan ook die minderbevoorregte gemeenskap tot voordeel strek wanneer sosiaal-ekonomiese ontwikkeling en opvoeding verskaf word deur verskeie programme soos bv die opleiding van plaaslike gidse in die onderskeie natuurlewe velde; omgewings opvoedings programme met betrekking tot volhoubare ontwikkeling van die plant- en dierelewe; werkverskaffing en opheffings programme deur verskeie toerisme inisiatiewe.

Begeleide toere of staptogte na verskeie relevante interessante plekke in die nabye omgewing sal moontlik wees. Die belangrikheid van bosbou en die sosiale en ekonomiese impak wat dit het, sal beklemtoon word.

Die sentrum sal ook 'n groter doel dien wanneer dit, in samewerking met KLF Ekotoerisme in Sabie, as satelliet kantoor vir besprekings en uitreiking van permitte vir bv die Magoebaskloof Wandelpad, dagstap roetes of enige ander aktiwiteit op die eiendom van Komtailand Forests kan dien. Die moontlikheid van die nuwe toerisme roetes en bestemmings in die omgewing, as gevolg van so 'n sentrum, is ook nie uitgesluit nie.

'n Belangrike daaglikse vereiste van die beplande inligtingsentrum sal wees die uitruiling van inligting met betrekking tot volhoubare toerisme in die Groter Tzaneen omgewing sowel as die Laeveld van Limpopo. Wisselwerking tussen die onderskeie rolspelers is dus van uiterste belang.

Die groenlig vir so 'n sentrum hang nou af van goedkeuring van die senior uitvoerende beampte van KLF.

Exit mobile version