Groot planne vir Langs die Oever

DIE BAIE gewilde jaarlikse Langs die Oewer Boerefees gaan voortaan elke tweede jaar gehou word om seker te maak dit vervul steeds 'n funksie as inter-aktiewe demonstrasie-geleentheid vir vervaardigers en bemarkers in die landbousektor, het die organiseerders van die geleentheid vandeesweek aangekondig.

Langs die Oever is tot dusver jaarliks gehou en het groot groei in gewildheid ervaar en vervaardigers in die landbousektor sien dit al meer as ‘n geleentheid om nie net te vertoon nie, maar demonstrasies te lewer en en onder die ideale omstandighede interaktief met boere te verkeer.

Dit word op Kallie Erasmus se plaas naby Eiland gehou en is die grootste demonstrasie en uitstalling van sy soort in die Noordelike gedeelte van die land.

“Na gesprekke met twee van ons grootste borge, Mercedes Benz en Absa, het ons besluit om Langs die Oever elke tweede jaar te hou.

Ons grootste vertoners het aangedui dat hulle nie jaarliks nuwe produkte bekendstel nie. Eerder elke tweede jaar.

Met die geweldige hoë koste verbonde aan vervoer, uitstal en demonstrasie, is dit dus net sinvol om die geleentheid tweejaarliks te hou,” het Erasmus, Renier Reyneke en Dawie Grobbelaar vandeesweek gesê.

Gerugte dat Langs die Oever gekanselleer is word deur die organiseerders as sensasionele snert beskryf. “Langs die Oever gaan nog vir baie jare vorentoe gehou word en ons glo dit gaan net groei.

Dit is nie in kompetisie met die Letaba Skou nie, eerder komplimenterend omdat ons fokus op demonstrasies en bekendstelling van nuwe produkte – nie net vertoon nie,” het die organiseerders gesê.

‘n Geskikte datum is ook ‘n taamlike turksvy vir die organiseerders. Dis altyd in Maart gehou, maar die weer speel dan ‘n groot rol en kan dinge bemoeilik. Dus word ander geskikte datums ook tans oorweeg. Dat dit voortgaan is egter gewis – net groter en beter.

Exit mobile version