Geloftefees: Die wonder van die ossewa

Die tema van die Geloftefees by Tzaneen vanjaar is Die Wonder van die Ossewa.

Die tema van die Geloftefees by Tzaneen vanjaar is Die Wonder van die Ossewa.

In die volksgeskiedenis van die Afrikaner word die ossewa meesal beklemtoon in die Groot Trek van 1835 tot 1838.

Dog vir bykans 300 jaar en oor tien geslagte heen was die ossewa vir lang tye ‘n huis vir Afrikanergesinne.

Die verhaal van die ossewa, of Voortrekkerwa, ook genoem die kakebeenwa, én die latere bokwaens of transportwaens, is ‘n sage waarom daar ‘n romanse kleef wat dikwels in ons geskiedskrywing gemis word.

Hierdie sage vind sekerlik ‘n hoogtepunt in die Slag van Bloedrivier waar die veelgeroemde kakebeenwa die hoofborswering van die Voortrekkers se verdediging uitgemaak het.

Die Geloftefees van Tzaneen vind vanjaar soos elke tweede jaar plaas op die Tzaneen Geloftefeesterrein by Wolkberg Akademie.

Ds Richard van der Westhuizen van die Hervormde Kerk, Tzaneen sal die Geloftediens lei en die Gelofte opnuut aan teenwoordige volksgenote voorhou. Hierna sal Kol Dawid Grobbelaar, boer van hierdie distrik en jare al gemoeid met ou waens in herdenkingsgeleenthede, die Geloftefeesrede voer oor die Wonder van die Ossewa. Hierdie rede sal in bondige trekke vyf aspekte aanroer, naamlik:

Die ontstaan en ontwikkeling van waens en trekosse in Suid-Afrika.

Die twee hoofwasoorte naamlik die vroeëre kakebeenwa en die latere transportwa.

Die Voortrekkerwa se unieke rol in die Slag van Bloedrivier.

Vermelding van verlede jaar se herdenking van Groot Trek 175 in Natal en by Bloedrivier en die deelname van die Carolus Tregardtwa van Tzaneen daaraan.

Die onlangse stigting van die TrekBoervereniging om die behoud van die wa- en trekoskultuur vir die voortgesette herdenking van die Afrikanervolksgeskiedenis te help verseker.

Verskeie fotos oor mooi watonele in Natal en elders sal ter toeligting op die grootskerm vertoon word.

Die Carolus Tregardtwa, nou 25 jaar oud, sal ook in die skoolsaal wat as Geloftesaal dien, uitgestal word tesame met ‘n verskeidenheid van items wat die inhoud van ‘n tipiese wa opmaak en ‘n blik op Voortrekkerlewe gee.

Berig geplaas deur Dawid Grobbelaar namens die Tzaneen Geloftefeeskomitee.

Exit mobile version