Local newsNews

Prof Wim by kerssangdiens

Christengelowiges, liefhebbers van kerkmusiek, en veral orrelmusiek, kry weer eerskomende Sondag (16 November) die geleentheid om ‘n onvergeetlike aanbieding van woordverkondiging en orrelmusiek by te woon.

Dit het reeds die afgelope jare bekend geword dat die jaarlikse Kerssangdiens van die Afrikaanse Protestantse Kerk Tzaneen ‘n geleentheid is om nie mis te loop nie.

Die klem van hierdie sangdiens val op die verkondiging van die Blye Evangelie van verlossing en word gelei deur ds Aubrey Hough.

Kleur word verleen aan die herdenking van die geboorte van Jesus Christus deur koorsang, samesang, musiek en blomme.

Vanjaar se diens sal dan ook op hierdie tradisie voortbou en met prof Wim Viljoen as orrelis, bygestaan deur ‘n begaafde pianiste kan dit net ‘n luisterryke ervaring wees.

Christengelowiges, liefhebbers van kerkmusiek, en veral orrelmusiek, kry weer eerskomende Sondag (16 November) die geleentheid om ‘n onvergeetlike aanbieding van woordverkondiging en orrelmusiek by te woon.

Wim Viljoen is tans professor in orrel, klavesimbel en orrelmetodiek en hoof van die Departement Musiek by UP. Hy het ‘n indrukwekkende reputasie in internasionale musiek–kringe met verskeie optredes in kerke in Europa, Engeland en Amerika.

Hy het die inwydingskonsert van die orrel in die Litomerice Katedraal in Tjeggië gelewer en in Suid Afrika konserte gelewer by die ingebruikneming van nuwe en herboude orrels in die “Veremarksaal” (Port Elizabeth), die “Groote Kerk” in Kaapstad en die “Groot Kerk” in Pretoria asook die orrel in die Pretoriase stadsaal.

As deelnemer aan internasionale musiekfeeste in Oundle (Engeland) en Dax (Frankryk) en wenner van twee internasionale orrelkompetisies (in Nürnberg en Chartres) verwerf hy nog verder erkenning en word die Huberte Rupert Prys vir Klassieke Musiek in 2013 deur Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns aan hom toegeken.

Verskeie laserskywe is ook saam met bekende kunsternaars soos Zanta Hofmeyer, Anton Delen en ander groepe deur hom vrygestel.

Die diens begin om 18:30 Sondagaand, 16 November, by die Afrikaanse Protestantse Kerk Tzaneen in Waterbessiestraat en lede van die gemeenskap van gelowiges word genooi om hierin te deel.

Daar word geglo dat hierdie funksie daartoe sal bydra om mens opnuut onder die besef van God se liefde en genade vir ons as sondaarmense te laat kom.

Navrae kan gerig word aan ds Aubrey Hough by 082 504 2244

Related Articles

Back to top button