Editor's choiceLocal newsNews

Groot eer vir Greta

'n GROOT en welverdiende eer het een van ons plaaslike maatskaplikewerkers te beurt geval toe sy as Maatskaplike werker van die Jaar aangewys is.

‘n Groot en welverdiende eer het een van ons plaaslike maatskaplikewerkers te beurt geval toe sy as Maatskaplike werker van die Jaar aangewys is.

Dr Greta Bekker van SAVF Tzaneen tak, het vanjaar die gesogte SAVF Maatskaplikewerker van die Jaar toekenning ontvang tydens die organisasie se 84ste kongres wat in Oktober in KwaZulu-Natal plaasgevind het.

Maatskaplikewerkers van vyf provinsies (Limpopo, Gauteng, Noordwes, Kwazulu/Natal en Mpumalanga) kom in aanmerking vir die toekenning wat een-keer in drie jaar toegeken word.

Volgens Marieta Kemp, SAVF Direkteur Maatskaplike Dienste, is die kriteria vir hierdie toekenning baie omvattend. ” Dit gaan nie net oor dienslewering nie. Die maatskaplikewerker wat hierdie toekenning ontvang het ‘n passie vir sy of haar werk. Ons kyk ook na die innerlike kwaliteite van die kandidate. Die persoon moet kan aanpas by die veranderende omstandighede binne die breë welsyn-spektrum en moet ook innoverend wees”, volgens Marieta.

Vanjaar se wenner, dr Greta Bekker, is vir die afgelope 23 jaar werksaam by die SAVF. Sy word beskryf as ‘n kundige met betrekking tot die Kinderwet en ander verwante wetgewing terwyl haar intermediêre vaardighede van wêreldklas gehalte is.

“Greta is een van die beste statutêre maarskaplikewerkers in Limpopo. Sy skroom nie om moeilike sake in die beste belang van die kind aan te pak nie. Sy is gereeld bedrywig met forensiese assessering en interaksionele analise vir die SAVF, maar ook vir ander NWO’s wat haar vaardigheid benodig”, volgens Marieta.

Sy is ook betrokke by verskeie groeps – en gemeenskapsprojekte in Trichardtsdal en Hoedspruit omgewing. Volgens Greta is die fokus hièr op dagmoeder-ontwikkeling. “Ons bied basiese opleiding aan vroue in die gemeenskap oor die funksionering van tuis-dagsorgsentrums. Sodoende word vroeë kinderontwikkeling en sorg gefasiliteer in gemeenskappe waar daar nie baie hulpbronne is nie”.

Sy sê ook dat een van die grootste uitdagings in die bedryf die toepassing van statutêre werk is. “Niemand dra verantwoordelikheid behalwe die maatskaplikewerker as dit kom by statutêre werk nie. Suid-Afrika het ‘n uitstekende Kinderwet, maar die toepassing daarvan, asook ‘n tekort aan mannekrag, is ‘n probleem”.

Sy sê dat sy graag in die toekoms wil sien dat die maatskaplikewerk-bedryf in Suid-Afrika voorsiening maak vir mediasie in gesinsreg sake. “‘n Mediasie proses fasiliteer ‘n ooreenkoms buite die hof. Dit beskerm ook die betrokke partye en voorkom dat een party ontrek en die hele proses moet dan van vooraf begin. Mediasie is met groot sukses in Kanada geïmplementeer en ons hoop dat dit ook binnekort in Suid-Afrika oorweeg sal word”.

Related Articles

Back to top button