Tzaneen Country Lodge is Tzaneen se trots

Adri en Faan Kruger, eienaars van Tzaneen Country Lodge is nasionaal aangewys as die Sanlam Business Partners Entrepreneurs van die jaar.

ADRI en Faan Kruger, eienaars van Tzaneen Country Lodge is nasionaal aangewys as die Sanlam Business Partners Entrepreneurs van die jaar.

Adri vertel dat sy opgewonde en ge-eerd voel om as die Sanlam Business Partners Entrepreneur van die jaar 2014 gekies te wees.

‘Die toekenning is nie net ‘n erkenning van harde werk en toewyding aan ons besigheid nie, maar dien ook as ‘n aanmoediging om aan te hou om die vlag hoog te laat wapper vir Toerisme na Tzaneen en die Limpopo Provinsie,’ vertel sy .

Die toekenning voel sy is is ook ‘n aanmoediging vir hulle personeel wat hulle droom deel van die dag toe hulle geopen het. Tydens hulle eerste toespraak met hulle personeel in 2000 het hulle gesê hulle wil nie net hê dat Tzaneen Country Lodge die beste in Tzaneen moet wees nie, maar die beste in Suid-Afrika.

‘Ons is nie noodwendig die blinkste of mooiste hotel nie, maar daar is min wat ons kan wen wanneer dit by kliëntediens, vriendelikheid en lekker aardse boerekos kom nie,’ vertel Adri trots.

Adri voel dat hulle personeel hulle geheime wapen is tot die sukses van Tzaneen Country Lodge. Sy voel sonder hulle sou sukses onmoontlik gewees het.

‘Ons maak ook altyd staat op die ondersteuning van die gemeenskap. Ek dink daar is soveel wat bygedra het tot ons sukses, en seker die spesiaalste is altyd vir my dat met behulp van my ma en my goeie vriendin, Theresa Bierman, ons tuine veertien jaar gelede begin is met harde werk van hulle kant af, maar met vriendinne wat almal help plantjies skenk het. Dit het die basis gevorm van die tuine wat die Tzaneen Country Lodge vandag het. Dit voel altyd vir my asof die Tzaneen Country Lodge met liefde opgebou is tot waar ons vandag staan. Dan was ons kapel ook nog ‘n geskenk van my man. Ons het die kapel “L’eglise de Lamour” genoem. Dit beteken kapel van die liefde.’

Hulle het al soveel toekennings in die verlede ontvang en was ook vir baie kompetisies genomineer, en voel Adri dat dit ‘n ongelooflike voorreg is om soveel erkenning te kry. Die eerste toekenning wat hulle in 2003 ontvang het as die beste Landelike hotel in Suid-Afrika was die begin, maar daar is soveel hoogtepunte. Om as Sakepersoon van die jaar 2012 deur die Tzaneen Sakekamer aangewys te word was ook ‘n hoogtepunt vertel sy. Verder was dit ‘n besondere eer om as die AHI Beste Klein Besigheid in Suid-Afrika 2013 aangewys te word. Die ander hoogtepunt was dat Tzaneen Country Lodge deur SATOA aangewys is as die Beste In Verantwoordelike Toerisme 2013 vir Afrika en die Indiese Eilande. Dit het hulle harde werk beloon om van dat hulle die Tzaneen Country Lodge begin het, hulle standpunt ingeneem het vir verantwoordelike, onderhoubare en groen Toerisme.

Sy dra graag hierdie toekenning op aan alle kankerlyers en almal wat geliefdes aan kanker verloor het. ‘Ek wil hulle aanmoedig om moed te hou en te weet dat God nog steeds die hele wêreld in Sy hand hou.’

Laat die toekenning jou aanspoor om iets uitdagends volgende te doen?

Adri vertel dat sy nog soveel planne en idees het vir die Lodge. Hulle wil graag nog verder uitbrei, maar laat die aap nie nou al uit die mou nie, hou dus hierdie spasie dop.

En wie wil sy jy graag bedank?

‘My Skepper want sonder Hom is niks moontlik nie. Verder wil ek graag my man bedank vir sy ondersteuning. Hy was nog altyd my grootste ondersteuner. Daar is nog ‘n hele paar wat ek graag sou wou noem, maar ek wil niemand uitsonder nie. Baie dankie aan die gemeenskap vir hulle volgehoue ondersteuning, dan natuurlik ook vir Sanlam en Business Partners wat hierdie ongelooflike geleentheid vir my moontlik gemaak het. Dit is ‘n besondere eer.’

Adri het dan ook weggestap met prysgeld van R100 000. Waarvoor gaan sy dit aanwend?

‘Ek gaan ‘n gedeelte aanwend as aansporing vir my personeel, maar ‘n vakansie is dalk ‘n opsie. Ononderhandelbaar – ek gaan my kleinkinders uitneem vir ‘n ete by ‘n restaurant van hulle keuse!

Baie geluk Tzaneen Country Lodge, julle is ons dorp se trots, doen so voort!

Exit mobile version