GalleriesNews galleries

GALLERY: Daar word vir Tzaneen se veiligheid gebid

911 Riders het Tzaneen Vrydag, 31 Mei besoek om te bid vir veiligheid.

Bikers Ride Against Farm Murders (BRAFM) wat ook bekend staan as 911 Riders, is ‘n motorfiets organisasie wat hulle toespits op die bewusmaking van plaasmoorde en die bou van gesonde verhoudings tussen die SAPS en hul plaaslike gemeenskappe.

Voor: Caroline van Schalkwyk en Olga Viljoen. Agter: Neels van Schalkwyk, Uwe Kroh,
Sergeant Masedi Sekgota, Luitenant Gezani Baloyi en Pastoor TJ Marias.

Die inisiatief is van stapel gestuur deur pastoor T.J. Mare wat ‘n biddag vir boere aanbied van dorp tot dorp.

“Ek het ‘n boodskap gekry om vir Suid-Afrika te bid, veral vir Suid-Afrika se boere want hulle hou die sleutel tot ons land se kosmandjie,” het Mare aan Letaba Herald gesê.

Mare het verder vertel dat hulle ook in besonder bid vir die nuwe regering en dat hulle volgens die grondwet sal regeer.

“Die 911 Riders besoek sowat tien dorpe in Limpopo en lê ongeveer 1755 km af tydens die inisiatief,” het Mare aan Herald verduidelik.

Die ysterperde het net na 10:00 hulle opwagting gemaak by die skougronde. Daar is in ‘n kring gestaan, hande is gevat en Pastoor Maree het die bidsessie gelei. Luitenant Kolonel Gezani Baloyi en Sersant Masedi Sekgota van die Tzaneen SAPD was ook teenwoordig tydens die geleentheid.

“Hierdie is ‘n goeie ding, ons moet almal saam bid dat misdaad moet verdwyn,” het Baloyi gesê. Olga Viljoen, een van die motorfietryers, het die langpad vanaf Middelburg aangedurf vir die veldtog.

“Dit was lekker koud vanoggend toe ons vertrek het maar die ervaring was wonderlik. Ons het verlede jaar nege provinsies besoek,” het Viljoen verduidelik.

Volgens Uwe Kroh, voorsitter van die Tzaneen Gemeenskaps Polisiërings Forum, bied die biddag aan boere die geleentheid om saam te bid vir veiligheid vir die land, reën, genade en veiligheid teen plaas aanvalle.

Ons omgewing se boeregemeenskap het egter geskitter in hulle afwesigheid.

“Dit is teleurstellend dat hulle nie hier is nie. Daar is blykbaar nie ‘n veiligheids probleem in Tzaneen nie,” het Kroh terloops laat val.

Die motorfietsryers het na afloop van die bidsessie ‘n heerlike ontbyt gaan geniet by die Wimpy, voor hulle die langpad verder aangedurf het op hulle veldtog.

Related Articles

Back to top button