Eerste Falconwood Tunnel Trail Run ‘n avontuur

DIE eerste Falconwood Tunnel Trail Run se uitdagende 6km, 12km en 25km roetes het gesorg vir pret en avontuur vir Tzaneen se padwedloop atlete.

Die hoogtepunte op die roetes het ‘n treintonnel van ongeveer 1km asook ‘n drafstap op die trein brug oor die Tzaneendam ingesluit.

Die skemerte in die tonnel het ‘n byna spookagtige atmosfeer geskep, wat terdeë deur die meer as 230 deelnemers geniet is.

Emmanuel Ramoshele van Pietersburg Road Runners het eersteplek in die mans 25 km in ‘n tyd van 1:45:51 geneem, gevolg deur Crispen Muchemwa van Tzaneen Marathon Klub in ‘n tyd van 1:42:55.

Stephen Madiye, ook van Tzaneen, het derdeplek gevat in ‘n tyd van 1:45:19.

Gift Rambele van Eskom het die vroue 25km wedren in ‘n tyd van 2:18:05 gemaklik gewen. Louise van den Dool van Tzaneen het tweedeplek gevat gevolg deur Mientjie Els.

Phuti Sethowa van Tzaneen het die 12km mans wedren in 51:11 gewen gevolg deur James Sithole in tweedeplek met 53:25.

Thabiso Mabasa van Tzaneen het eersteplek in die 12km vroue wedren in 1:01:52 gewen met Mahlalela Ramokone van Team Seleteng in die tweedeplek.

Albert Smith, eienaar van Falconwood Juices and Spring Water, het elke persoon wat die dag kom ondersteun het hartlik bedank en hy hoop om volgende jaar die wedren net nog beter te maak.

Volgens Paul Zaayman, organiseerder, het die wedloop aan al die verwagtinge voldoen.

“Ons hoop en verwag dat die Falconwood Trial Run nog een van die top trail runs op Limpopo se kalender sal word.

Die tonnel en die treinbrug maak die wedren beslis uniek,” het Zaayman verduidelik.

Een ding is seker, as jy jouself as atleet bietjie wil uitdaag wat engte en hoogtevrees aanbetref, dan is die Falconwood Trial Run ‘n moet op jou hardloop kalender in 2017.

Exit mobile version