Local newsNews

Motorhandelaars in Tzaneen hou nog kop bo water

Herald, as gemeenskapskoerant en ondersteuner van die plaaslike motorbedryf, het navraag gedoen oor hoe die streng Covid-19-rampregulasies die motorbedryf tans belemmer. 

So ver hou hulle nog uit!

Dis hoe die meeste plaaslike motorhandelaars tans voel rondom die streng inperkings wat vir hulle geld.

Hoewel die bedryf reeds twee weke gelede vanaf ‘n vlak 4 na ‘n vlak 3 geskuif is, het die meeste handelaars nog geen regulasies vanaf die regering ontvang oor wat toelaatbaar is nie.

Handelaars gaan verder gebuk onder streng administratiewe bedryfsmaatreëls indien hul wel dienste aan essensiële vlak vier-werkers of enige noodpersoneel verskaf, sê Phillip Mostert van BB Motors se Nissan, UD Trucks en gebruikte afdelings in Tzaneen. Boetes van tussen R50 000 tot R250 000 kan opgelê word indien hulle die regulasies oortree of dit nie reg administreer nie.

Statistieke oor nuwe voertuigverkope vir April weerspieël hoe hard die bedryf deur die inperkingsregulasies getref is. Sowat 98,4 % minder voertuie is landwyd as verlede jaar verkoop, wat die totale binnelandse verkope vir April op 574 eenhede, teenoor die 36 787 wat in April verlede jaar verkoop is, te staan bring.
Mostert sê gelukkig is BB Motors ‘n groot en gevestigde motorgroep en is daar nie sprake van afleggings nie.

“Vir ons gaan dit oor die veiligheid van ons klante en personeel voor inkomstes,” sê hy. Die motorgroep kon van die beskikbare noodmaatreëls gebruik deur van die werkloosheidsversekeringsfonds gebruik te maak.

Hy sê hul werkswinkel is net vir vlak 4-bedrywe oop wie se voertuie herstel of gediens mag word. “‘n Persoon wie se motor ‘n geskeduleerde diens moet ontvang, kan slegs gehelp word indien daar ‘n fout is wat ‘n gevaar vir die bestuurder of padgebruikers inhou,” sê Mostert.

John Hyde, eienaar van onder andere Trohpy Motors in Modjadjiskloof, sê hulle hou tans kop bo water. “Ek het ongeveer 130 mense in diens as ek al my ondernemings bymekaar tel, waaronder die Caltex-vulstasie op Modjadjiskloof, motorbande-ondernemings op Tzaneen en Letsitele, ‘n trekkeronderneming op Letsitele asook ‘n makelaarsonderneming wat dienste vir die taxibedryf lewer.”

Hy sê omdat hulle ‘n familie-onderneming is, het almal ingespring en doen hulle baie van die werk self. “In die werkswinkel by Trophy Motors op Modjadjiskloof, werk drie van die ses tegnici.” Die werkswinkel is afgeskaal na net 40% van die kapasiteit. Hulle doen werk vir mense in die landbou- en ondersteunende bedrywe asook die taxibedryf.”

Tot nou toe kon hulle nog die wa deur die drif trek. “Ek voel tans nog positief en gaan my bes doen om almal in diens te hou.”

Verder is hulle ook nie seker oor wanneer motorverkope weer ‘n aanvang kan neem nie. “Ons kry heeltyd teenstrydige boodskappe. In teorie kan jy voertuie verkoop, maar dit is in praktyk nie moontlik nie omdat die registrasiekantore nog gesluit is en padwaardigheidstoetse nie kan plaasvind nie.”

Madelein Venter, handelaarshoof by Hyundai en Kia sê hulle is ook reeds vanaf 27 Maart gesluit. “Omdat ons kliëntebasis tradisioneel nie in die essensiële dienste en landbousektore val nie, is die werkswinkel gesluit totdat ons weer voluit kan funksioneer. Ons wag ook om te sien wat presies die regulasies gaan wees voordat ons weer kan begin om sake te doen,” sê sy.

Related Articles

Back to top button