Local newsNews

Kies jou sport oordeelkundig sê biokinetikus van Tzaneen

Voordat jy 'n sportsoort kies, maak seker dat dit gepas is vir jou vermoëns.

Kniebeserings is waarskynlik een van die mees algemene beserings waarmee sportlui sukkel.

Cornell Jacobs (35), ‘n biokinetikus en gimnasiumbestuurder by Die Hoërskool Ben Vorster in Tzaneen, sê ACL-beserings (‘n skeur of verstuiting van die voorste kruisligament in die knie) kom baie voor, veral in sportsoorte wat skielike en rigtingveranderde bewegings of spronge vereis.

Jacobs het in Pretoria grootgeword en werk al vir die afgelope twaalf jaar as biokinetikus nadat hy sy honneursgraad aan die Universiteit van Pretoria behaal het. “Ek het op skool goed in atletiek en rugby presteer en vanaf graad 8 het ek gedroom om vir die Bulle rugby te speel. Ek het op Loftus Versveld geboer en was amper elke naweek daar. As die Bulle gespeel het, het ek plan gemaak om te gaan kyk,” vertel Jacobs.

In sy matriekjaar het prof. Ernst Kruger, direkteur van die instituut vir sportnavorsing by Tukkies met hom oor beroepskeuses gesels. “Dis hy wat die saadjie geplant het om eerder mense met beserings te help,” sê hy.

‘n Kniebesering het spesiale aandag nodig. “As die besering op die veld gebeur het, het ons sekere toetse wat ons doen om die aard te bepaal. Maar as die atleet eers drie tot sewe dae later by ons aankom, doen ons ander toetse om die graad van erns te bepaal. Indien ons onseker is, word hulle na ‘n ortopeut verwys vir verdere ondersoek.”

Hy doen egter rehabilitasieprogramme vir ‘n groot verskeidenheid van beserings. Die hoofareas is gewoonlik die nek, skouers, heupe, knieë en enkels. Hy doen ook programme waar die algehele gesondheid, beweging en welstand van ‘n kliënt aangespreek word. Hierdie sluit in kardiovaskulere siektes, hipertensie, diabetes, metaboliese siektes, Parkinsons, MNS (motorneuronsiekte), MS (multipele sklerosis), osteoartritis, osteoporosis, kanker en verlaagde spiertones.

“Elke sport het sy eie beserings, maak nie saak hoe goed voorbereid jy is nie. Maar kontaksportsoorte, soos rugby, het die meeste beserings. Netbal, hokkie en tennis het ook redelik beserings. Sportsoorte met min kontak tussen die deelnemers het die minste beserings, soos gholf en rolbal.”

Watter sport jy kies om te beoefen, word bepaal deur jou kennis van die oefening, jou ouderdom, ouer beserings wat jy dalk mag hê, bestaande beserings en wat jou liggaam jou toelaat om te doen, sê Jacobs.

“Ek persoonlik hou baie van 5-10 km draf en hoë-intensiteit-oefeninge waar ek 20 sekondes vinnig hardloop en dan liggaamsgewigoefeninge doen.”
Hy sê mense wat met oefenprogramme begin voel dikwels oorweldig deur die oorvloed van inligting wat tot hul beskikking is.

“Die meerderheid van die inligting is onwaar en kan baie skadelik vir die persoon wat oefen wees. Ek hou daarvan om oefeninge maklik, simplisties of eenvoudig te hou. As jy gesond is en nie enige mediese kondisies het nie, beveel ek aan dat jy jou hartklop of hartritme as verwysingspunt gebruik. Doen oefeninge wat jou warm maak en dus lekker laat sweet, dit moet jou hartklop tot so 130-150 slae per minuut laat lig.”

Hy sê stap bly ‘n gesonde en veilige keuse, maar dit moet teen ‘n vinnige pas wees. “Jy moet skaars kan praat en uitasem wees. Draf bly ‘n gunsteling van die meeste mense wat min tyd het en genoeg kalorieë wil verbrand.

Fietsry is ook ‘n opsie, maar dit benodig toerusting en tyd om lang afstande te ry.”

Cornell se advies vir beginners?

Die belangrikste is om ‘n doelwit te hê. As daar nie ‘n doelwit is nie, sal jy nie volhard in die proses nie. Kry eerder professionele raad as om na mense se menings te luister, dit sal beserings voorkom en jou baie geld spaar. Ek beveel kort afstande loop of draf gekombineer met ligaamsgewigoefeninge wat die hartklop lig tot 130-150 slae per minuut. Die loop of draf kan 20 meter, 50 meter tot 3 minute wees. Doen daarna die volgende met 10 sekondes rus tussen
elke oefening:

– 15 x sit-staan hurkspronge (“squats”) (bewegings met die knieë agter die tone en die gewig op die hakke).
– 10 x hoë knieë loop op een plek of draf op een plek.
– 10 x sywaarts loop (side-walk squats) met die bene halfpad gehurk.
Herhaal die loop of draf en doen die volgende ook met 10 sekondes rus tussen elke oefening:
-15 x muur opstote (“push-ups”) of knie-opstote of normale opstote.
– 10 x per beenbeweging met die handeposisie teen die muur, tel die knieë na jou bors op asof jy ‘n motor sou stoot.
– 20 sekondes handevietvoet-posisie met die lae rug reguit en die bene effens gebuig (“plank”).
Beginners kan die oefening vir twee rondes herhaal drie keer per week. Op die ander dae kan 20-30 minute geloop of gedraf word.
Vir diegene wat ‘n uitdaging soek, doen 3-4 rondes, 3-4 per week, met kort afstande draf van 30 minute op die ander dae.

Jacobs kan by 072 380 6382 geskakel word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button