Local newsNews

Skoolhoofde in Tzaneen praat oor die uitdagings van heropening van skole na inperking

Skole het baie uitdagings om te oorkom oor hoe hulle die Covid-19-regulasies gaan moet implementeer.

Skole in Tzaneen en omgewing maak tans planne om die veilige terugkeer van leerders te fasiliteer.

Magnus Steyn, hoof van Hoërskool Merensky, sê onduidelike boodskappe vanaf die staat oor hoe die proses gaan verloop, belemmer hul beplanning. Ten spyte daarvan is hulle hard aan die werk om die veilige terugkeer van graad 12’s op 1 Junie te beplan. Ander grade se terugkeer sal daarna ingefaseer word, maar presies wanneer dit is, is nog onduidelik. “Daar word gepraat om elke twee weke ‘n nuwe graad in te faseer afhangende van hoe lank die proses neem om graad 12’s geskandeer en gevestig te kry.”, sê hy.

“Onderwysvakbonde het met die staat onderhandel dat alle skole (kwantiel 1 tot 5) persoonlike beskerming- en skanderingstoerusting asook ontsmettingsmiddels ontvang. Maar verlede week is weer aangekondig dat net “geen skoolfonds”-skole hulp sal ontvang. Daarna het die minister weer amptelik aangekondig alle skole gaan hulp ontvang. Met hierdie wipplankryery weet geen skool of hul self voorsiening sal moet maak en of die staat dit gaan doen nie. Daar word steeds hieroor onderhandel.”

 

 

Merensky en ander skole het beloftes van die privaat sektor ontvang van “deurloopontsmettingstasies” wat leerders se temperatuur ook neem. “Beloftes soos hierdie kan ‘n groot verskil maak om die skool veiliger te maak.” Volgens hom het Merensky reeds voor die inperkingstydperk heelparty ontsmettingstasies opgerig. “Indien die staat nie toerusting gaan verskaf nie, gaan ons self die stasies uitbrei.”

Een van die grootste uitdagings by skole is 1.5m distansiëring wat tussen leerders gehandhaaf moet word. Steyn sê dit beteken onder andere dat kinders verskillende tye by die skool sal moet arriveer en verdaag sodat opeenhoping by die hek (waar skandering gedoen sal moet word) nie plaasvind nie. Leerders sal op verskillende tye moet pouse hou, kleedkamer toe gaan en van klasse verwissel. “Laboratoriumbanke (wat een lang bank is) sal net twee leerders mag akkommodeer, wat beteken dat hierdie klasse nie prakties bruikbaar is nie.”

Hieroor sê Jan van Staden, hoof van Die Hoërskool Ben Vorster, dat die voorgeskrewe 1.5m afstand tussen leerders redelik goed ondervang kan word in die tydperk wanneer net die graad 12s by die skool is. “Groepe kan opgedeel word en groter groepe kan in die saal en die ouditorium geakkommodeer word. Maar soos die grade bygevoeg word, sal die uitdaging groter word.”

Van Staden sê skole ontvang goeie leiding van die SAOU (Suid-Afrikaanse Onderwysersunie) en hul skoolbestuur en beheerliggaam is tans besig om saam na knelpunte te kyk. “Beplanning sal in elk geval op ‘n daaglikse basis moet geskied wanneer die skool weer oopmaak, aangesien daar nuwe uitdagings sal wees waaraan niemand nou dink nie.”

By Merensky is hul tans besig om beleide, prosedures en beplanning af te handel, sê Steyn. Vanaf volgende week sal die bestuurspan en die beheerliggaam begin om die planne te implementeer en tydens die week van 18 Mei sal opleiding aan alle personeel gegee word, dokumentasie versprei word en beplanning verfyn word.
Nog ‘n kopseer waarmee skole stoei is hoe om koshuisinwoners te hanteer. Volgens Steyn wag hulle nog om riglyne vanaf die departement van onderwys.
Van Staden sê die ideaal is dat kinders nie kamers deel nie. “Weer eens sal dit makliker wees in die begin wanneer daar minder leerders is. Ek glo ook dat nie alle leerders sal terugkeer na die koshuise nie. Baie is in die koshuis weens buitemuurse aktiwiteite en met die dat dit meestal afgestel is, sal sekere kinders waarskynlik verkies om eerder elke dag vanaf plase in te ry,” sê hy.

Ten spyte van vrese by onderwysers, is die meeste onderwysers gretig om terug te keer om onderrig te hervat, sê Willles Steenkamp, hoof van Laerskool Tzaneen. “Klasgroottes is nie ‘n probleem nie omdat grade ingefaseer word. Daar sal nie in enige klas meer as 20 leerders wees nie en ons sal ‘n afstand van 2m handhaaf. Die uitdagings gaan baie wees, maar uitdagings is daar om ons kreatiwiteit, innovasie en leierskap te toets.” Graad 7-leerders keer ook op 1 Junie terug skool toe, ander grade sal, soos met hoërskole, daarna ingefaseer word.

Skole sal daagliks aan die onderwysdepartment moet verslag gee oor hoe hulle vorder en probleme wat ondervind word. Hierdie gaan ‘n nog groter administratiewe las op onderwysers plaas, sê Steyn.

Skoolhoofde wil egter sorg dat die skooljaar tog afgehandel moet word. “Ons almal besef dat skoolkinders ‘n baie moeilike en ongewone skooljaar beleef en dit sal tydens die bevordering van leerders in gedagte gehou moet word,” sê Steyn. Ook Van Staden het leerders bemoedig. “Slegte tye bou karakter. Hierdie is ‘n ideale tyd om karakter te bou. Hierdie jaar is wat elke individu daarvan gaan maak.”

Skoolhoofde het ouers en leerders gemaan om nie paniekerig te raak nie en om hul te weerhou van onbetroubare nuusbronne of fopnuus. “Volg amptelike en betroubare nuuskanale en wees versigtig vir vals nuus. Maak eers seker voordat onbevestigde gerugte versprei word.”

Related Articles

Back to top button