Local newsLocal sportNewsSport

Lannie-span wen Buffalo Bass kompetisie

Die tweede Buffalo Bass Bonanza visvangkompetisie, van die Hoërskool Ben Vorster, het die afgelope naweek in die Letsitele gebied plaasgevind en is deur die Lannie-span gewen

DIE tweede Buffalo Bass Bonanza visvangkompetisie, van die Hoërskool Ben Vorster, het die afgelope naweek in die Letsitele gebied plaasgevind.

Die Buffalo Bass Bonanza is ‘n swartbaar hengelkompetisie met ‘n verskil, waar swartbaar hengelaars die geleentheid gegun word om op 12 van die mees gesogte en eksklusiewe privaatdamme in die Letsitele omgewing te hengel en ook groot pryse te wen.

Hierdie privaatdamme word eenmaal per jaar spesifiek vir die kompetisie oopgestel en is alombekend vir die oorvloed van groot swartbaars daarin.

Die kompetisie is op Vrydagaand afgeskop met ‘n “Captains meeting” by Letaba Junction, waar die naweek se reëls en reëlings aan die deelnemers deurgegee is en die damme aan elke span toegeken is.

Die eerste 12 posisies is opgeveil en deelnemers kon bie vir daardie spesiale dam waar hulle die groot visse wou uittrek.

Daar is geesdriftig gebie en met ‘n bietjie vindingryke aansporing van Dewalt van der Walt, die afslaer, het die fondsinsameling ‘n mooi hupstoot gekry. Na die veiling is die ander spanne se damme by wyse van trekking bepaal. Die aand is afgesluit met ‘n komplimentêre ete en kuier.

Saterdagoggend, om 05:00, was die eerste bote reeds op die water en het die visvang in alle erns begin.

Juan Rossouw met sy groot vis.
Juan Rossouw met sy groot vis.

Die weer het mooi saamgespeel en behalwe vir ‘n reënbui of twee vroeg die oggend was dit ‘n heerlike dag vir hengel. Baie visse is gevang, maar die hengelaars moes hard werk om daardie 5 groot visse wat kon tel, in te katrol.

Die gewigte van die vissakke was ‘n bewys dat die belofte van groot vis nie net ‘n leë belofte was nie. Na ‘n lekker warm dag is die lyne teen 18:00 opgetrek en het almal weer na Letaba Junction toe gewikkel vir die prysuitdeling.

Met prysgeld, gelukkige trekkings en komplimentêre produkte wat uitgedeel is ter waarde van

R63 500 het die deelnemers nie met leë hande huis toe gegaan nie.

Daar is vanjaar ook pryse uitgeloof vir die persoon wat die beste foto deur die dag geneem het. Die pryse is gewen deur Josph Raspel, Lientjie Botha en Bennie Osmers (Team Redheart).

Nog ‘n nuwe prys is toegeken aan die deelnemer wat die aktiefste op die Buffalo Bass se Whatsup groep was. Die prys is gewen deur Wayne Dames.

Die organiseerders wil graag alle deelnemers, boere wat hulle damme beskikbaar gestel het en Letaba Junction bedank. Verder ‘n groot dankie aan al die borge: Unigro Financial Services (hoofborg), ABSA, Standard Bank, Miami Canners, Trophy Motors, Houers Koöperatief, ATKV Eiland, ATKV Buffelspoort, Forever Resorts Warmbad, SAB, Junction Garage en drankwinkel, Noordchem, Boulevard Cycles, Solly’s Anglers Corner (Pta), Rudamans, Letsitele Signs, The Oil Centre, Vandlovu Mining and Industrial Supplies en BF Distributors.

Hengelaars kan nou reeds 30 en 31 Oktober 2015 in hul dagboeke aanteken vir ‘n nog groter en meer opwindende Buffalo Bass Bonanza 2015.

Related Articles

Back to top button