Local newsNews

TZANEEN: Hoërskool Merensky bou wêreldklas astrohokkiebaan

Die waterastrobaan van Plasies het ingenieursvernuf uit die boonste rakke geverg. Lees hier hoe dit gedoen is.

Na vier jaar se beplanning, fondsinsameling, bou en afronding word Hoërskool Merensky se wêreldklas waterbasis astrohokkiebaan Saterdag 14 Maart geopen.

Die baan is reg by Merensky se ingang gebou met ‘n mooi uitsig oor die berge en plantasies. “Die grond waarop die baan gebou is, was voorheen ‘n piesangplantasie met ongunstige kontoere en het vereis het dat 60 000 m2 grond verskuif moes word, professioneel gekompakteer word en die inklinasie perfek hanteer word om die gewensde effek van stormwater te kan hanteer,” sê Christo Pretorius, voorsitter van die beheerliggaam en projekleier.

Astrobaan.

Die grondwerke is vir twee reënseisoene gelaat om te verseker dat die blad op perfekte soliede basis gelê word. Die sub-basis is gestabiliseer deur 60 ton kalk in die boonste 500 mm van die oppervlakte in te werk en daarna 2170 ton G5-gruis te kompakteer om die basis te vorm. ‘n Asphalt seëllag is bo die basis geïnstalleer sodat die sub-basis nie versag en langtermyn skade veroorsaak weens gereelde watertoediening nie.

Die finale siviele komponent is afgerond met ‘n deurlaatbare 25mm e-layer wat deur professionele installeerders van België en Turkye, met gespesialiseerde toerusting geïnstalleer is om te verseker dat die oppervlak 100% volgens die ingenieur se spesifikasies is. Hierdie e-layer is een van die belangrikste komponente om toekomstige kniebeserings tot die minimum te beperk, sê Pretorius.

Die finale laag is ‘n Belgotex mat wat deur Sebastiaan, ‘n Nederlander met meer as 500 astrobane agter sy naam, afgerond is. “Die pragtige voorkoms pas nie net by Merensky se kleur in nie, maar is ook die kleur waarop die vorige Wêreldspele en 2020 se Olimpiese Spele aangebied gaan word.”

 

 

 

Die beligting beslaan meer as 9200 LED-ligte met verskillende lense om ‘n homogene beligting te voorsien wat gemonteer is op 20 meter maste. Die besproeiïng is deur Nato Loock en sy span van ZZ2 geïnstalleer, sê Pretorius.

 

“Die ses sproeiers kan binne ses minute ‘n egalige toediening van 4mm water oor die totale oppervlak neerlê, dus tussen 8 500 liter en 20 000 liter per siklus. Weens die toenemende druk op watervoorsiening het die beplanning die hergebruik van water ingesluit. Behalwe vir die verdamping in die ses minute van watertoediening, word al die water op die teerblad herlei na ‘n ondergrondse dreineringsisteem, wat in oop kanale en later in geslote pype na die besproeiïngsdam kanaliseer vir hergebruik om die twee krieket ovale en die sokkerveld te besproei. Die gevolg is minimale waterverlies.”

 

 

 

Weens die feit dat sekere funksies nie uitgekontrakteer het nie, kon groot besparings op sekere items verseker dat ‘n paviljoen met sitplek vir 600 mense, ‘n astrobestuurskantoor en onder andere ‘n elektroniese telbord as luukshede die projek afrond.

 

Christo Pretorius.

Met die finale oorhandiging van die astro het Sebastiaan vir ‘n ligter oomblik gesorg toe hy ‘n emmer matgom met opset op die paviljoen sement omgegooi en laat droog word het en die volgende dag op die netjiese skoon blou mat gaan neersit het. “Gelukkig was Adriaan van Niekerk nie op die perseel nie, anders het die Nederlander in Tzaneen pak gekry,” vertel Pretorius.

“ZZ2, Gubitz Boerdery, Bricks@Tzaneen en baie ander kleiner donateurs het die multimiljoen rand projek moontlik gemaak,” sê Pretorius.
Merensky nooi graag die gemeenskap om Saterdag 8:00 die opening van die baan by te woon en te kom kyk na die eerste amptelike wedstryd. “Die astro is vir die gemeenskap om te gebruik.” Skakel Anne Beech, astrobestuurder by 083 449 4002 vir meer inligting.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button