Local newsNews

TZANEEN: Dries se raamateljee is ‘n wêreld van weleer

In Tzaneen se gesogte Boundarystraat woon 'n gebore Tzaneener met 'n kunstige raamateljee wat jou sal wonder of jy terug getree het in tyd.

Wanneer jy die raamateljee van Dries Teubes betree, word jy teruggevoer na ‘n wêreld van weleer.

Dries, ‘n gebore Tzaneener het iets wat as hoërskoolseun as stokperdjie begin het, toe later jare sy besigheid geword het, weer as stokperdjie begin beoefen.

Hy vertel hy was in 1970 in graad 8 in Merensky toe een van sy ouer sussies se man ‘n meubelfabriek gekoop het. “In die fabriek was ‘n handmodel-raammasjien. Hy het die masjien vir my en my pa gegee en ek het na skool begin om klein fotoraampies te maak.”

 

Dries Teubes in sy raamateljee.

Dries se pa, oom Andries Teubes, het by Van Velden-hospitaal gewerk waar hy bedags bestellings ontvang het. “My pa het die groottes aan my deurgegee, die glas laat sny en dit dan na werk huis toe gebring. Ons het saam daaraan gewerk.” Dries onthou hy kon ‘n Robin Hood 3-spoedfiets koop met die geld wat hy gemaak het.

Die gesin het in Duiwelskloof gewoon en hy het soggens die bus skool toe geneem. “Die rit het ‘n uur lank geduur en as jy nie die vorige dag jou huiswerk gedoen het nie, was dit die ideale tyd om dit te doen.”

Later jare het die bestellings so toegeneem dat oom Andries sy werk bedank het en voltyds ‘n raamwinkel in Tzaneen oopgemaak het. “My oudste suster het die winkel help inrig. My pa het lekker met die klante politiek gesels. Almal het hom geken en hy het baie besoekers in die winkel ontvang.”

Na matriek is Dries weermag toe en teen die tyd wat hy klaar was, het dié familieonderneming in so ‘n uitgebrei dat hy by die raamwinkel aangesluit het.

 

Dries se raamwerke.

Tien jaar gelede het hy die winkel verkoop en afgetree. “Maar ‘n mens kan nie stilsit nie en het weer ‘n werkswinkel begin.”

Dié ateljee is geleë in sy oorlede swaer, Piet Vermaak, se huis reg langs Dries se eie huis. Piet was ‘n tuinboukundige wat menige tuin in die dorp uitgelê het. Die pragtige ingeboude kaste, antieke meubels en handgeverfde vloere is deur hom gerestoureer.

“Piet het die huis aan my vrou, Karin, nagelaat en sy het dit vir my gegee as ateljee.”

Oor die jare het hy baie vreemde goed vir klante, wat van sover as Phalaborwa en Polokwane gekom het, geraam. “Ek is een keer gevra om die skrapnel van ‘n bom tydens die destydse grensoorlog te raam. Die baie swaar stuk metaal moes teen die raam gemonteer word met ‘n skroef. Die skrapnel het glo die klant se beste vriend gedood.” Hy is ook al gevra om waardevolle skilderye, soos onder andere ‘n paar Pierneefs, te raam.

Piet se personeel wat saam met hom tuine uitgelê het, werk nou vir Dries. “Hy het hulle blomname gegee. Violet het verftegnieke aangeleer en sy doen nou al ons verfwerk. Lucky bestuur die werkswinkel waar alles van meubels gemaak word.”

Dries se dogter is ‘n arbeidsterapeut in Nelspruit. ‘n Paar jaar gelede het sy haar pa gevra om klein rystoeltjies te maak vir pasiënte wat aan spina bifide ly. “Die stoeltjies gee die kinders die kans om te beweeg.” Tot nou toe het hy meer as 150 van die klein rystoeltjies vir die organisasie, Warriors on Wheels, gebou. Hy bou dit teen ‘n agtste van die koste waarvoor dit ingevoer word.

Dries is op soek na “Bumbo”-sitplekkies wat in die rolstoeltjie gebou word. Gewoonlik koop hy dit self, maar het al in die verlede donateurs gekry om dit te borg. “Inwoners wat ou Bumbo-stoeljies het wat hulle nie gebruik nie, al is hulle oud, kan dit aan my stuur, ek sal dit skoon maak.”

Kontak hom by 084 951 7889.

Related Articles

Back to top button