Local newsNews

TZANEEN: JC stap die ekstra myl en herlaai vertroue

'n Jong vakleerling motorwerktuigkundige het uit sy pad gegaan op Vadersdag.

JC Stoop (19) wat verlede jaar gematrikuleer het aan Merensky, het op Vadersdag meer as die ekstra myl gestap vir Henk en Linda Minnie.

Henk Minnie vertel dat hy op Vadersdag besluit het om sy motor te laat was by Sasol.

“Teen etenstyd het hulle my geskakel en meegedeel dat my kar klaar is en dat ek hom kan gaan haal,” vertel Minnie.

Maar soos die noodlot dit wou hê, wou die Ford EcoSport niks weet van aanskakel nie.

“Morsdood. Die battery was dood, dit is mos karre se wintersiekte,” vertel Minnie voorts.

“Ek het probeer om die kar te ‘jump-start’ van my bakkie af. Die kabels het begin smelt, jy weet mos die nuwe elektroniese goed is anders.”

Minnie het dadelik vir Jurie du Plessis van BB Motors geskakel.

“Jurie het vir my gesê dat ek Herman du Bruyn, die werkswinkelbestuurder moet skakel. Ek is meegedeel dat een van die motorwerktuigkundiges my sal kom help.” JC en sy familie was self ook besig met ‘n Vadersdag ete.”

Hy en sy pa Fanie was baie blitsig om ons by te staan.

JC het die battery so gekyk en vir my gesê oom die battery is mors dood.

Herman du Bruyn, werkswinkel bestuurder van BB Motors, JC Stoop en Henk Minnie.

En so is die Minnies gestrand.

“Daar was nêrens waar ons een kon koop nie en Maandag sou nou nog bo op alles ‘n vakansiedag ook wees. Ek het aan hom verduidelik dat ek nie die kar daar kan los nie. JC het aan my gesê dat dit geen probleem is nie en aangebied om sy Ford Fiesta se battery vir my te leen tot Dinsdag toe,” vertel Minnie.

Teen Dinsdag is ‘n nuwe battery in die motor by BB se werkswinkel ingesit.

“Hulle het my geen geld gevra vir die arbeid nie. Dis mos nou diens. Daar is so min mense soos JC wat so iets onbaatsugtig sal doen. Hy is 19 jaar oud en om daardie besluit te neem is prysenswaardig. Hy kon net gesê het nee hy kan nie help.”

Stoop is Vrydagmiddag, 5 Julie na werk verras met ‘n klein dankbetuiging by BB Motors se werkswinkel.

Tydens die klein geselligheid is daar erkenning aan JC gegee deur iets kouds te drink en smulhappies te geniet.

“Deur hierdie gebaar wil ons net vir jou ‘n handruk gee en dankie sê vir jou moeite,” het Minnie gesê.

Herman de Bruyn, die werkswinkelbestuurder en sy span is ook bedank.

“Herman, vir jou en jou span wil ons ook bedank. Julle is ongelooflik. Mense hoor te min dankie en dit is wat ek vanaand aan julle almal wil sê. Julle werkswinkel maak sy merk en sit BB Motors op die kaart.”

Volgens Du Bruyn was JC se optrede uitstekend.

“Dit is min wat jy jong mense in vandag se lewe kry wat iets vir ander sal doen. Maar hierdie jong manne van my is so. Hulle werk is hulle passie. Ons is soos een groot familie,” het Du Bruyn aan Herald gesê.

“Die ligte een in die koelkas is vir jou JC, want jy moet nog leer,” het Minnie tong in die kies die heildronk ingestel en die aand is verder rustig geniet in ‘n blink skoon werkswinkel.

Related Articles

Back to top button