Local newsNews

Dag Zero ‘n realiteit vir Tzaneen

Alles dui daarop dat die Tzaneen Dam gouer dolleeg gaan wees (Dag Zero) as wat die meeste mense dink of verwag.

Die dam gaan waarskynlik leeg wees voor die volgende reënseisoen met ons is.

Terwyl baie inwoners hul kommer uitspreek oor die sluise wat dag en nag oop bly terwyl die watervlak merkbaar sak, het die voorsitter van Agri Letaba, Pieter Vorster, vandeesweek ‘n verklaring aan Letaba Herald uitgereik om meer duidelikheid te verleen.

“Alhoewel die Departement van Waterwese amptelik beperkings aangekondig het, het ons as boere, via die Letaba Water Gebruikers Vereniging, nog strenger beperkings ingestel en mag boere tans net sowat 30% van hul kwotas gebruik.

Hiermee hoop ons om ‘Dag Zero’ so lank as moontlik uit te stel of te vermy maar die probleem is dat sommige rolspelers geen beperkings toepas nie en selfs heelwat meer as hul kwotas gebruik sonder dat daar enige gevolge vir hulle is,” sê Vorster in sy verklaring.

Lees: Water Wednesday: Limpopo and the Eastern Cape encouraged to use water sparingly

“Daar word tans water uit Ebenezer vrygelaat vir gebruikers stroom af. As daar egter nie erns gemaak word met die beperkings nie en dit nie baie streng afgedwing gaan word nie, gaan die beskikbaarheid van water heelwat vroëer ‘n probleem raak as wat die publiek en die owerhede besef,” sê hy.

Al die statistieke dui daarop dat teen huidige verbruik, daar geen water beskikbaar gaan wees voor die volgende reënseisoen in aanvang neem nie, volgens Vorster.

Vorster se waarskuwing volg op die van baie ander rolspelers wat van mening is dat die munisipaliteit se traagheid om waterbperkings in te stel, en belangriker nog, baie streng toe te pas, daartoe gaan lei dat die hele omgewing teen September sonder ‘n druppel water gaan sit.

‘n Vorige senior amptenaar van Waterwese, wat annoniem wil bly, is van mening dat ons teen middel tot laat Augustus reeds sonder water gaan sit.

“Die munisipaliteit dwing nie beperkings af nie. Gebruikers steur hulle nie aan die beperkings nie en gebruik water asof dit nooit gaan opraak nie. Hier wag ‘n groot skok op party mense, ” het die amptenaar gesê.

Related Articles

Back to top button