FeaturesLifestyle

Wats in daai sak…is jy gereed?

Toe die rooi g-string uitval, begin vrae my ontwyk en '50 shades of red' later moes ek vra vir koue water...en toe begin dit!

Hulle kom in verskeie groottes en kleure voor!

Sommiges is petit en ander lyk soos doedelsakke.

Sal ‘n man ooit ‘n vrou se handsak verstaan?!

Na ‘n intense gewroeg en ‘n geploegde ondersoek oor dié vraag, het Letaba Herald die volgende gevolgtrekking gemaak … dat jy meer as Google gaan nodig hê om uit te vind waarom sekere items  in die Evasgeslag se handsakke is.

Neem kennis dat die ‘slagoffers’ hulle toestemming verleen het om hulle ‘sakkie’ inhoud met ons te deel.

Vrou 1: Toilet-sitplek saniteer sproei. Dit, sê sy, is vir wanneer die nood druk in die openbaar. Los suiglekkers van ‘n bekende braai restaurant.

Indien jy weer daar eet en die lekkers by die kassiere in die bakkie is half leeg, weet jy nou hoekom. Ons het die verdagte opgespoor. Om haar te beskerm sal ons haar anoniem hou.

Los triple X pepperminte. Sien hier is nou die ding. Los pepperminte is onhigiënies, maar daar is toilet saniteer sproei.

Jammer vrouens, mans verstaan dit nie! Die vrou het ook onthul dat sy twee jaar gelede ‘n handboor se kop in haar handsak rond gedra het. En hulle sê vrouens is van Venus? As ‘n mens ‘n boorkop saam jou dra, is jy beslis van jou eie planeet. O, en sy dra ook ‘n naelvyl saam, maar dit sê sy is slegs vir selfverdiging.

Vrou2: Hier het als heel normaal daarna uitgesien, maar toe die rooi g-string uitval, en vrae my ontwyk en 50 shades of red later moes ek vra vir koue water.

Vrou3: Ook maar net die gewone. Maar baie pepperminte. Wat is dit met die minte dames?

Vrou4: Nou hier is die doedelsak-tannie. Rekenings, bloeddrukpille, en na die gelang van die stapel rekeninge is die bloeddrukpille te verstane. ‘n Sakrekenaar. Mooimaak goed, want, dit sê sy, is noodsaaklik vir wanneer jy ‘n mooi man op straat sien en jouself gou moet ‘fix’. Drie beursies. Beursie een: Dit is vir al die rekeninge. Geen kontant hierin nie. Beursie 2: Met kaarte van al die groot kettingwinkels, maar wat haar man nie weet nie is dat hier ook hope kontant in is om te ‘spend’. ‘n Skelm sakkie, maar ek wou nie verder hieroor vra nie. ‘n Resepteboekie. Dit sê sy is vir ingeval iemand ‘n pannekoekresep benodig. ‘n Tjekboek, wat minder sin maak as ‘n resepteboek – en dan ook ‘n bankboek.

Doedelsak!

Op kantoor het my Eva-kollegas ingestem om hulle inhoud van hulle handsakke te deel. Maar net as dit in kompetisievorm sou kon wees. Met ‘n boks sjokolade as eersteprys het die uitgooiery begin.

Ek staan soos Don Juan, (Hannon Glam Guru as jy wil) met die boks Qaulity Street…

‘Kom girls, show me what you’ve got?’

‘n Klein banksakkie met haar kinders se eerste wisseltande in? Peppersproei, maar nog in ‘n omhulsel. Dit maak nie sin nie. Gaan jy vir die rower vra om net een oomblik te wag terwyl jy die plastiek verwyder? En terwyl jy besig is, knoop dan maar sommer ook ‘n geselsie aan. Vra om uit oor sy doen- en-late wie weet, julle word dalk beste vriende!

En as die plastiek omhulsel verwyder is? Vat so katvis, dit was goed om jou te leer ken. Sy het ook lenslappies. Dus kan sy dit as troos aanbied nadat sy hom katswink gesproei het.

‘n Baba-pop tietiebottel? ‘n Piesang? ‘n Mes? ‘n Mond-tot-mond asemhalings apparaat?

Stork Country Spread? Pop, wie se brood wil jy botter?

Ook ‘n Keto dieet aanhanger in ons midde. Daar is ‘n piesang in haar handsak. Niks so lekker soos vrugteslaai nie, sê ek altyd. So gesond!

Onlangs was daar helder oordag ‘n inbraak by ‘n vriendin van my se kantoor. En die storie loop wyd, want al wat sy kon uitkry was: ‘No, and it was Italian leather.”

Haar handsak is egter later gevind en aan haar terugbesorg deur ‘n sekuriteitsmaatskappy. Sy het dit met groot tranedal en lof vir die beamptes vasgeklem … haar baby was terug…met die Buck knife in!

Kom ons wees eerlik met mekaar. Dit is juis in hierdie doedelsakke waar menige man al verstroosting kon vind in tye van nood.

‘n Multi-funksionele knipmes met ‘n skroewedraaier moes al ‘n man een-of-ander tyd uit die verknorsing help.

‘n Snesie kon ‘n kleinkind se krapmerk trane vinnig vertroos. Los kleingeld kon bydra tot die kerk se kollekte, want pa het sy beursie by die huis vergeet. Alweer!

My oorlede ouma het altyd ‘n ou sykous in haar handsak gedra. My vertel dat dit op hulle wittebrood oppad Amanzimtoti toe baie handig te pas gekom het en die Ford Cortina sy fanbelt duskant Escourt die gees gegee het. Wel sykous se kind moes doen en dit het.

En wat is die laaste ding wat jy hoor voor ‘n paartjie of ‘n groep vriende iewers heen vertrek?

“Ek kom nou, ek kry net  gou my handsak’

Wat my verstand egter nogsteeds baffle is die vrou met die boorkop in haar handsak en die Stork Margarine?

My indiepte ondersoek sal dalk lig hierop kan werp…

PS: En die Man-Bag? Ek het een! Sal ek in tou staan vir ‘n sjokolade om die inhoud te vertoon? Ek gee die een ‘n mis! Maar ek sal jou kan bystaan in geval van nood….daar is darem ‘n botteloopmaker in! En ‘n klein naaldwerkstelletjie, mens weet mos nooit wanneer mens ‘n broekskeurtjie moet vaswerk nie…

 

 

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button