Local newsNews

Tzaneen: Plaaslike meisies ontsnap naelskraap uit kloue van ‘sindikaat’

Drie plaaslike meisies het naelskraap uit die kloue van vermeende ontvoering ontsnap, in wat beweer word voorvalle van menseroof kon wees met die opset om met hulle handel te dryf.

Drie plaaslike meisies het naelskraap uit die kloue van vermeende ontvoering ontsnap, in wat beweer word voorvalle van menseroof kon wees met die opset om met hulle handel te dryf.

Terwyl daar talle gerugte landswyd is van beweerde pogings tot kinderontvoering is dié voorvalle in Tzaneen deur beide die polisie en die betrokke families bevestig.

Lees: WATCH: Parents need to wake up to the reality of child abduction

‘n 17 jarige meisie van ‘n plaaslike Hoërskool was verlede Dinsdagoggend, 4 September  byna die slagoffer van ontvoering in Parkstraat.

‘Jy het seker die stories gehoor wat klaar rondloop, maar sy is nié gegryp nie, en sy is nie ontvoer nié,” het *Anne se getraumatiseerde ma aan LETABA HERALD vertel.

Anne het om omstreeks 06:30 in Parkstraat skool toe gestap.

“‘n Taxi het van agter aangery gekom en voor haar op die sypaadjie ingdraai om haar te blokkeer. Daar was drie persone in die taxi. Die skuifdeur van die taxi is oopgemaak. Toe hulle die deur oopmaak het sy my vertel dat sy net omgedraai en begin wegstap het. Sy het hulle gehoor giggel,” vertel die ma.

Lees: Confirm child abductions before you share and cause panic SAPS urges

Steven Jacobs, Apteker by Van Heerdens Apteek was toevallig op in Parkstraat in sy motor oppad werk toe. Jacobs het gesien wat gebeur en sy motor versnel.

“Dank die Here vir hom want ek glo Hy het hom op die regte tyd laat ry,” vertel die ma.

Jacobs, wat bekend is aan Anne het  langs haar stilgehou en vir haar gesê om in sy motor te klim.

“Ek het vir haar gevra of ek haar huistoe moet neem, of skool toe moet neem. Sy wou skool toe en ek het haar gevat,” het hy aan die HERALD gesê.

Volgens Anne se ma het haar dogter nie ‘n woord met die verdagtes gepraat nie.

“Want ek leer haar van kleins af, jy praat nie met vreemde mense nie. Nie as ‘n kar by jou stilhou nie. Nooit nie. Jy maak dat jy wegkom so gou jy kan.”

Die dogter stap tans nie meer skooltoe nie en maak gebruik van saamry geleenthede as haar ouers haar nie self kan neem nie.

Sy het Saterdag berading gekry na die voorval.

Volgens die ma, moet Anne as ‘n held beskou word deurdat sy haar ervaring met inwoners kan deel. Dit is ongelukkig realiteit, alhoewel sy net nou van alles wil vergeet en konsentreer op die eksamens en skoolwerk.

“As hierdie voorval nie gebeur het nie, kon ons nie ander ouers en hulle kinders waarsku nie.”

Sy maan ouers aan om hulle kinders te leer om nie met ‘n vreemde man of vrou geselsies aan te knoop nie.

“Stap net weg,” sê sy. ” Leer jou kinders van kleins af, jy eet nie iets wat jy by iemand kry nie, jy praat nie met ‘n vreemde mens nie. Ek meen as sy met hulle gepraat het, sê ek vandag vir jou het hulle haar gegryp. Sy is ‘n tingerige meisie maar sy het ten minste breins,” vertel haar ma.

Die nog hoogs onstelde ma glo vas dat die hand van bewaring oor haar dogter was, maar is geskok dat so iets moontlik met hulle dogter kon gebeur het.

“Ek kom uit die ouer garde uit en jy weet mens verwag nie so iets kan gebeur in jou dorpie waar jy al 64 jaar woon nie. Was dit ‘n laerskool kind was dit verby en was daai kind weg,” vertel sy senuweeagtig.

“As hulle aan my kind gevat ek sê vir jou wragtig, hulle sou my hard gevat het, maar ek sou harder terug gevat het.”

Die ma se laaste pleidooi aan ouers is om ‘n les te leer uit hulle ervaring.

“Dit kan met seuns of meisies gebeur van oor die kleurgrens. Hulle kan vermoor word, hulle kan verkrag word, hulle geslagsdele kan afgesny word en vir muti verkoop word. Wees wakker en waarsku jou kind,” maan sy.

Die HERALD is bewus van nog ‘n voorval in Aquapark in Maritzstraat waar ‘n man in ‘n taxi glo twee meisies in Julie genader het. “Die bestuurder was baie vasbeslote om hulle in die taxi te kry. Hy het langs die taxi gestaan en hulle gekoggel met ‘sweet-words’ om nader aan hom te beweeg,” is aan die HERALD vertel.

Hulle het egter kop gehou en weggehardloop.

‘n Waarskuwing is onlangs uitgereik waarin inwoners gewaarsku is oor ‘n moontlike sindikaat wat vermoedelik in Tzaneen en Phalaborwa bedrywig is. “Onbekende voertuie met twee tot drie persone in, beweeg rond in die dorpe en teiken kinders. Waarsku julle kinders en wees bedag,” lui een boodskap van ‘n  Gemeenskap Polisieërings Forum (GPF).

In nog ‘n boodskap word daar gewaarsku teen ‘n blou BMW met getinte vensters met dieselfde modus operandi.

Die HERALD wil nie onnodig paniek saai nie, maar wees bedag en waarsku julle kinders.

Daar is ‘n soektog na Khaya Rokhotso (5) van die Maake omgewing oor die naweek geloods nadat hy vermis geraak het.

Lees: TZANEEN: Body found of missing child (5)

Volgens kaptein Joseph Moseri, woordvoerder van die Tzaneense polisie is alle lede op gereedheidsgrondslag geplaas en opdrag is gegee dat enige verdagte persoon(e) en voertuie gestop moet word vir ondervraging.

“Wees ten alle tye bedag en vergesel jou kind waar jy kan. Maak seker jou kinders is in die teenwoordigheid van verantwoordelike persone, hetsy dit familie, vriende of dagsorg is. Moet nie dat jou kind alleen loop nie,” is die boodskap van Moseri aan inwoners.

Volgens hom “is daar geen rede vir paniek in dié stadium nie.”

*Anne – skuilnaam

Related Articles

Back to top button