Local newsNews

Potte uitspook het gekook

Potjiekos, en veral kompetisies vir die lekkerste en beste potjiekos, gaan nooit weer dieselfde wees nie.

Donderdagaand se potjiekos-kompetisie by die skou, aangebied deur die Tzaneense Sakekamer, het nuwe hoogtes van gehalte, oorspronklikheid en veral ‘n lekker atmosfeer bereik en die 13 spanne wat sake moes uitspook om die vier pryse te wen het hoogtes bereik wat nog nie voorheen in enige soortgelyke kompetisie gesien is nie.

Ondanks die feit dat die fokus van die kompetisie eerder op pret en deelname is as op wen, het die spanne ongelooflike moeite gedoen en die drie beoordelaars, Zirk Buys, Peet Bezuidenhout en Marina van Rensburg, het behoorlik harde bene gekou om die wenners aan te wys.

“Dit was bykans onmoontlik om tussen die drie bestes te onderskei en uiteindeklik kon amper enige van die spanne met ‘n prys wegstap,” het die beoordelaars na die tyd gesê.

Ook Llandi van der Walt, voorsitter van die Sakekamer, was vol lof vir die deelnemers vir die heerlike atmosfeer, goeie gees en veral gehalte geregte wat voorgesit is. Uiteindelik is Mahela Boerdery van Letsitele se “Midnight Tango potjie”, met rooibok as belangrikste bestanddeel, as die lekkerste potjie aangewys.

Mahela Boerdery se asemrowende ‘Midknight Tango Potjie’ het veroorsaak dat hulle die Lekkerste Pot prys gewen het. Vlnr: Pieter Vorster, Alida van der Walt, Hansie van der Walt, Fanie Schoeman, Johan Dreyer en Tzaneen Sakekamer se voorsitter, Llandi van der Walt.

Maxims se afval-potjie is as die oorspronklikste potjie aangewys, Sherlocks Hoofkantoor het die afdeling vir beste aanbieding gewen en Forms Media is vereer as die span met die beste gees.

Maxim’s het die prys vir die Oorspronklikste Pot gewen nadat hulle Afval Pot die beoordelaars se smaakkliere geprikkel het. Vlnr: Natie fourie, Bertie Nel en Llandi van der Walt.

Die voorsitter van Agri Letaba, Pieter Vorster, het onder andere die feestelikheid bygewoon terwyl die voorsitter van die Sakekamer, Llandi van der Walt, al die spanne bedank het vir hul betrokkenheid en veral GTM (munisipaliteit) se span, onder leiding van Mokgadi Nkoana, baie lof toegeswaai vir hul deelname.

Sherlock Restaurant het die prys vir die Beste Aanbieding gewen nadat hulle ‘n pragtige tafel vir die beoordelaars aangebied het. Vlnr: Bruce Sreaton, Jaco van Wyk, Llandi van der Walt, Riaan Bezuidenhout en Hardus Steyn.

Die borge wat pryse aan die wenners geskenk het is ook met groot waardering bedank. Dit sluit die Blue Dot-groep in wat die baie gesogte bedien-planke van Mango Tree Furniture gemerk en geborg het vir die vier wenners, Forest Offroad Accommodation in Haenertsburg, Crawdaddy’s, Kings Walden en Panarotti’s.

Forms Media Independent se eindelose gees het weer eens gesorg dat hulle vanjaar se Beste Gees trofee huistoe geneem het. Vlnr: Sumari du Plessis, Llandi van der Walt, Izel Dorfling, Mari du Plessis en Poppie Schoeman.

Die ander spanne wat deelgeneem het sluit in Lannie Motors, Hoërskool Merensky (twee spanne!), GTM, Paint Pot, BB Motors (baie lekker malvapoeding!,) Platform en NTT Toyota. Bykans al die spanne het na die kompetisie summier hulle steun vir volgende jaar se Skou toegesê en daar word nou reeds uitgesien na dit.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button