Editor's choiceLocal newsNews

Klub beplan toernooi ten bate van Danré’s Dream

Die Tzaneen Muurbalklub hou die naweek van 24 tot 26 November ‘n toernooi ten bate van Danré’s Dream asook ander projekte van die Downsindroom Vereniging.

Danré Erasmus was ‘n jong man met Downsindroom, maar aktief betrokke by die Tzaneen muurbalklub en ander sportklubs.

Hy het ‘n droom gehad dat meer jong mense met Downsindroom opleiding kan kry sodat hulle ook met trots skouer aan skouer saam met mede-kollegas poste sal kan vul in die ope arbeidsmark.

Met die ondersteuning van sy ouers en vriende in Tzaneen het Danré op ‘n uitsonderlike wyse fondse ingesamel deur die eerste persoon (waarvan die vereniging weet,) met Downsindroom, te word wat die 94.7 “Cycle Challenge” voltooi het.

Dit is hoe Danré’s Dream gebore is.

Die Downsindroom Vereniging is gekies om projekte aan te pak wat spesifiek inpas by Danré’s Dream.

Fondse wat deur Danré se projek aan die Downsindroom Vereniging in Pretoria oorbetaal is, het hulle in staat gestel om opleiding te reel vir volwassenes met Downsindroom.

In September 2016 is ‘n rekenaarkursus vir 16 volwassenes, van wie Dandré een was, met die sindroom aangebied. Hy en sy pa is ongelukkig kort daarna in ‘n motorongeluk oorlede. Sy droom het egter voortgeleef en in 2017 het die Vereniging ‘n tweede projek aangepak.

Die projek, “School to Work Transition” behels die opleiding van jong volwassenes met Downsindroom in lewensvaardighede, sportafrigting en basiese geletterdheid.

Die uiteindelike mikpunt van die program is plasing in die ope arbeidsmark. Daar is tans 13 studente deel van die projek wat in Mei afgeskop het.

Hulle sal vanaf September tot November as jong werkers op drie persele in Pretoria werkservaring opdoen onder leiding van “job coaches” wat hulle sal ondersteun.

Vanaf Januarie volgende jaar word daar beoog om die jong werkers in verskeie poste van hulle keuse te plaas en sukses verhale te skep.

Sodoende sal daar bewusmaking geskep word om die pad na die wêreld van werk vir ander persone met Downsindroom in die toekoms oop te maak.

Wow! – for Work, ‘n revolusionêre program van die vereniging wat onstaan het, het voortgespruit uit Danré’s Dream.

Die program is tot dusver ondersteun deur die Tzaneen Muurbalklub waar Dandré ‘n aktiewe lid was.

Lede van die klub beplan die toernooi nou weer in November ten bate van Danré’s Dream en daag ander klubs in Tzaneen, veral waar Danré en sy pa betrokke was om ook op die manier fondse in te samel vir Danré’s Dream en projekte wat daarmee geassosieer is.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button