Local newsNews

Renzo skrik sy gat af vir Leydsdorp se spook, Annie

"Ek weet nie wie Annie Stephens was, en hoekom hierdie voorval juis op daardie plek gebeur het nie. Wat ek wel weet, is dat dit wat ek beleef het daardie dag met ons gebeur het..."

Die Spook van Annie Stephens? Renzo Giani deel graag sy ‘ondervinding’ van ‘n spook met Letaba Herald…of was dit, besluit self…

In Desember 1975 was ek en drie vriendinne vir ‘n dag uit met my ou bakkie.

Ons wou op verskillende plekke in die Gravelotte-Leydsdorp omgewing uithang, op historiese plekke foto’s neem, swem, basies net ‘n lekker ‘af’ dag hê.

Ek het daardie oggend die vriendinne by my groot groot vriende, Patrick en Sandra Reynecke, op JCI Myn gaan oplaai.

Oor ontbyt, het ek hulle vertel van my planne vir die dag en genoem dat ek ook by Leydsdorp se begraafplaas ‘n draai wou maak en kyk vir interessante grafopskrifte.

Patrick het my gesê dat sy Ouma (dalk Ouma-grootjie?) Peg Reynecke ook daar begrawe is en gevra of ek vir hom ‘n foto van haar graf sal neem. En toe raak Patrick skielik ernstig…

Hy waarsku dat ons tog net nie na ses in die aand in die begraafplaas moet wees nie, want daai tyd spook dit daar…

Patrick is al oorlede, maar ek het hom so goed soos myself geken, hy was my tweede ‘broer’- ek het vir meer as ‘n jaar sy ouerhuis gedeel en al die lief en leed van die Reynecke-familie ervaar.

Lees ook:  Leydsdorp kry weer nuwe lewe

Ek was baie na aan hom en sy ouer sussie Christine, maar nog nooit het die onderwerp van spoke opgekom nie, en ongetwyfeld nie so lokaal soos Leydsdorp nie. Patrick? Spoke?

Kon nie die twee vereenselwig nie.

Toe ek ongelowig verder uitvra, vertel hy my hulle gesin was een agtermiddag net voor ses-uur by die begraafplaas.

Sy pa het het gereeld na die graf van hulle familielid omgesien. Dit was toe al erg skemer.

As jy braaf genoeg is….kyk die video voor jy verder lees…

Toe hulle almal na ‘n ruk se bossies uittrek en skoonvee voor die graf gaan staan, waarskynlik al ses-uur, kom daar skielik van nerens n huilende wind op, hulle hoor agter hulle hoe gaan Annie Stephens se graf (die een met die sement muurtjie om) se hekkie met ‘n kreun-kraak geluid oop…!

Hulle het almal gelyk vir die kar gehardloop, ingespring en weggejaag. Selfs Patrick se Pa, Oom Dennis, was glo ontsteld, en hy was nie iemand wat sommer onsteld geraak het nie.

Met my eie twyfel goed weggesteek, of so het ek geglo, onderneem ek om versigtig te wees en vergeet onmiddelik daarvan toe ons wegry.

Lang storie-potensiaal verkort, ons kom toe natuurlik ook net voor 18:00 eers by die begraafplaas uit.

Die dag was dit redelik bewolk en die agtermiddag was donker vir Desember. Ek het besluit om gou Patrick se foto te neem terwyl daar nog genoeg lig was, dan bietjie rond te kyk en dan die volgende dag behoorlik fotos te kom neem, mits daar belowende grafopskrifte was.

Ons het werklik lyk my almal vergeet van Patrick se spookstorie, en Nicolene Potgieter het saam my na die Reynecke-graf toe geloop. Ek het dit en ‘n paar ander fotos geneem, en toe is Nicolene en ek voor Annie Stephens se graf, waarvan ek een vinnige foto met Nicolene in geneem het.

Annie Stevens se graf in die ou Leydsdorp begraafplaas.

 

Nicolene sê:  ‘Hier is die graf waarvan Patrick gepraat het’.

Haar woorde was nie koud nie, toe kom daar ‘n huilende wind, werklik huilend, en ysig, en hier reg voor ons begin die swaar ysterhekkie heen en weer te swaai terwyl hy kraak en kreun…en die volgende oomblik val die hele ding met ‘n slag op die grond by ons voete!

Nicolene, Vera en Magda het daar by die begraafplaas uitgevlieg, en dit was eers toe ek hulle hoor skree en toeter druk, dat ek tot verhaal geskrik het, hulle was alreeds aldrie voor in my bakkie, en dit was ‘n klein ou bakkie.

Wel…

Ek kan vaagweg twee van my tree onthou, toe draai ek die bakkie se sleutel (hoe ons al vier ingekom het op ‘n klein drieplek-sitbankie weet ek nie) en ons jaag daag daar weg met groot opwinding.

Die volgende dag twaalfuur die middag, na Patrick se “Ek het julle mos gesê” lesing, het ek alleen teruggegaan begraafplaas toe om te probeer vasstel wat gebeur het.

Ons spookgraf se hekkie is van “mild-steel” yster, so dis redelik taai, maar die twee skarniere is van harder, minder buigsame yster, dalk potyster, en die boonste ene het in twee gebreek, gelyk na ‘n vars of minstens onlangse breuk, nog pikswart binne.

Dit wil voorkom asof die laer skarnier van die twee, wat saam die boonste ene in die muur ingeskroef is, soos ‘n ‘fulcrum’ gewerk het toe die boonste een se skarnier breek. Dit het die hele hek laat afswaai in plaas van oop. Wat het dit laat gebeur, dis die GROOT vraag…!

Ek weet nie wie Annie Stephens was, en hoekom hierdie voorval juis op daardie plek gebeur het nie.

Wat ek weet, is dat dit wat daardie dag gebeur het…regtig gebeur het…

Was darem al ‘n paar keer sedert daardie tyd weer daar, en elke maal wonder ek oor die toeval…toeval?

Moerse toeval, dan…

Kyk ook na foto gallery van Leydsdorp se begraafplaas: Leydsdorp se begraafplaas deur die lens

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button