Local newsNews

‘n ‘Dare’ ontaard in sosiale media-nagmerrie

‘Daar is druk daar buite. Groepsdruk, skooldruk, die media. Staan 100% agter jou kind en staan hulle by as so iets moontlik met jou familie gebeur.’

Wat bloot as kattekwaad bestempel kan word en wat eintlik net ‘n uitdaging was, het baie vinnig ontaard in ‘n sosiale media-nagmerrie.

So is ‘n groep tiener-vriende Sondagoggend ontnugter nadat ‘n video op sosiale media geplaas is waar hulle ‘n lewensgrootte advertensiebord van Steers agter op ‘n bakkie gelaai het.

Die groep het om omstreeks 01:00 Saterdagoggend by Steers gestop vir wegneem-etes na ‘n aand se kuier.

En die groep was ‘sterk.’

Sterk genoeg om Limeryn Steyn te daag dat sy dit nie kan of sal doen nie…

‘My vriend Ardo Kuiser het my ‘ge-dare’ en niemand ‘dare’ my nie. Ons is ‘n lekker groep vriende en ons het ‘n ooreenkoms, as die een die ander uitdaag om iets te doen, dan doen ons dit,’ vertel Limeryn wat midde die hele sosiale media-sirkus sit.

Marius Jacobs van Watchdog het die video bloot op sy Facebookblad geplaas, om die groep tieners te waarsku en vriendelik te vra om die bord terug te neem voor daar onaangename gevolge kan wees.

Jacobs het die video volgens hom van sy blad verwyder, na verneem is dat die bord terug besorg is. Maar die pos het reeds soos ‘n veldbrand versprei en het uiteindelik op die ‘Police Pics and Clips’ Facebook blad beland. Die video is teen Maandagoggend al meer as 8 000 gekyk. Kommentaar het gewissel tussen tong in die kies tot baie ander kommentaar wat gegrens het aan naamskending wat sake in die hof kan laat draai.

‘Ons het geweet daar is kameras. Ons wou dit net vir 24 uur hou. Ons sou dit retig terug geneem het,’ vertel Limeryn.

'n Skermgreep van die video wat op sosiale media soos 'n veldbrand versprei het.
‘n Skermgreep van die video wat op sosiale media soos ‘n veldbrand versprei het.

Steyn se ma, Erika vertel dat ‘elke aksie ‘n reaksie het. En hierdie is ‘n baie goeie voorbeeld. En wat die jong klomp aangevang het word glad nie goed gepraat nie. Hulle kon toegesluit geword het vir diefstal. Maar dit was net kattekwaad en wie kan nou klippe gooi. Wie het nog nooit, in die dae voor sosiale media nie iets gedoen wat hulle nie moes nie,’ vertel Erika. ‘Tieners moet verstaan dat sosiale media jou uitmekaar kan skeur en totaal kan afbreek,’ sê sy.

Sy voel dat hierdie ook ‘n baie goeie waarskuwing moet wees vir almal, veral tieners en hulle ouers.

‘Daar is druk daar buite. Groepsdruk, skooldruk, die media. Staan 100% agter jou kind en staan hulle by as so iets moontlik met jou familie gebeur.’

Limeryn vertel dat sy en haar vriende baie skuldig voel oor die hele storie.

‘My emosies was op en af, en lelike gedagtes gaan deur ‘n persoon se kop om net van alles af weg te kom, Maar ek is ‘n sterk mens ek gaan nie dat so iets my onderkry nie. Ek staan op en sê ek is jammer.”

Erika vertel dat selfs die skoolhoof, waar sy vanjaar gematrikuleer het, Magnus Steyn haar geskakel het, en vir haar gewaarsku het wat op sosiale media geplaas is.

‘Merensky is ‘n wonderlike skool. Mnr Steyn hoef haar nie te geskakel het nie. Sy is klaar met matriek. By Merensky is jy nie net ‘n nommer nie, maar ‘n student wat op hulle hande en harte gedra word,’ vertel Erika.

En ‘n tiener is mos nou maar ‘n ander spesie, laat val Erika. ‘Dit het niks met opvoeding te doen nie.’

‘Ek is lewenslustig. Ek lewe my lewe voluit en ek neem verantwoordelikheid vir dit wat ek gedoen het, en ek gaan nie dat ander my onder kry nie. My vriende staan my ook by.

Kyk na die video waar Emma Sadlier praat oor implikasies wanneer dit kom by sosiale media:

En sy voeg vinnig by dat hulle net vriende is en nie kêrel en nooi soos wat die kommentaar ook rondgegooi word op Facebook nie.

‘Dit wat na jou kant toe kom moet jy kan vat soos ‘n man,’ sê Limeryn.

Sy is regtig jammer.

‘Eintlik wil ek dankie sê vir almal wat so kommentaar gelewer het. Aan almal op Facebook. Hulle het my as mens sterker gemaak en my gehelp om op te staan teen die aanslae,’ sê sy dan.

Die ‘Wegneembord’ is weer terug besorg by Steers.

Limeryn het persoonlik vir Wilemien Roetgers, mede-eienaar van Steers geskakel en verskoning gevra.

‘Ons sien die saak as afgehandel,’ was Roetgers se kommentaar.

Maar ‘n vriendelikke waarskuwing aan ‘wegneem’ kliënte:

‘Sulke gedrag is onaanvaarbaar. Dit is nie die eerste geval nie. Daar is kameras om elke hoek en draai van Sasol en Steers. Enige onvanpaste gedrag sal nie ongesiens verbygaan nie, en skuldiges sal aan die pen ry,’ sê Roetgers ernstig.

Maar dan waarsku die wet ook sosiale media sleutelbord terroriste.

Emma Sadleir, sosiale media kenner en prokureur waarsku dat dit problematies is dat persone op sosiale media gaan en aantygings maak alvorens dit bewys is.

Sy het in ‘n onlangse onderhoud op ‘n gewilde radiostasie gesê dat dit baie maklik is om iemand te dagvaar vir naamskending in Suid Afrika. Volgens haar hoef ‘n persoon slegs drie dinge te kan bewys. Die aanstuur van ‘n pos aan ‘n ander persoon, dit moet na jou verwys en dit moet lasterlik wees en jou reputasie krenk.’

Soos met alles het ‘n saak twee kante.

Wat die tieners gedoen het kan nie goed gepraat word nie.

Maar die res van ons moet die heeltyd ingedagte hou, dat dit wat ons vingers op die sleutelbord doen, groot en onaangename gevolge kan hê.

Letaba Herald het besluit om nie die video weer te publiseer wat op sosiale media versprei is nie.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button