Local newsNews

Tassieprojek skop weer af

Solidariteit Helpende Hand se Skooltassieprojek skop weer af om skryfbehoeftes aan behoeftige, Afrikaanse graadeens te verskaf.

Die projek bestaan reeds sedert 2007 en help jaarliks behoeftige graadeens om op gelyke voet met hulle klasmaats te begin.

Om ‘n skoolloopbaan te begin kan baie intimiderend vir nuwe leerlinge wees, maar nog meer so as hy/sy die jaar ingaan sonder enige skryfgoed. Die fondasies vir ‘n suksesvolle toekoms, uit die armoede kringloop, word reeds in die vroeë grade gelê en ? tekort aan skryfbehoeftes belemmer die kinders nog verder.

Volgens dr Danie Brink, uitvoerende direkteur van Helpende Hand, glo die organisasie dat armoede die hoof gebied kan word deur in opleiding te belê, en dit begin reeds met die gevoel van hoop wat by graadeens geskep word wanneer hulle die nodige skoolgoedjies kry.

“Kinders is die bank waarin ons ons geld belê,” sê dr Brink. “Ons rente is hulle suksesvolle toekoms as dokters, onderwysers en rugbyspelers. Die projek speel ‘n onmisbare rol in behoeftige graadeens se lewens, want danksy so ’n tassie kan hulle hul skoolloopbaan op gelyke voet met hul klasmaats begin.”

Die Skooltassieprojek is nou in sy tiende jaar en het al meer as 30 000 kinders gehelp deur ’n skooltassie met die nodigste skoolbehoeftes aan hulle te verskaf. Vanjaar word 4 600 skooltassies aan behoeftige kinders oor die land heen uitgedeel.

In Mpumalanga gaan daar vanjaar 398 tassies uitgedeel word by skole. Jy kan die kinders in jou area ondersteun deur die woord “Tastrap” te SMS na 39950 en betrokke te raak by die projek. SMS kos R2.

Vir meer inligting, skakel Margolé Riekert, Skooltassie se projekorganiseerder, op 082 715 0508 of stuur ? epos na margole@helpendehand.co.za.

Related Articles

Back to top button