CrimeNews

TZANEEN: Wees bedag op skenkings deur ‘Dewald Smit’

Die publiek van Tzaneen word gewaarsku teen nog 'n skelmstreek wat die rondte doen - die keer om skroot aan 'n kerk te skenk.

Die sekretaris van NG Wolkberg het Vrydag ‘n oproep van ene ‘Dewald Smit’ gekry.

Hy het aan haar gesê dat hy onlangs ‘n plaas op die R36 (Lydenburgpad) sowat 26km uit die dorp gekoop het.

Daar is glo ‘n klomp skroot op die plaas wat hy graag aan die kerk wou skenk.

Sy het Jaap du Toit, wat op die kerk se finansiële komitee dien, daarvan vertel.

Hy het ‘Smit’ geskakel en die het hom genooi om na die skroot te gaan kyk. Hulle het ‘n afspraak vir Maandagoggend gemaak.

Maandagoggend was hulle weer telefonies in verbinding en ‘Smit’ wou weet hoe laat hy sou kom.

Jaap het geantwoord dat hy iemand van ‘n plaaslike skrootwerf gaan oplaai en dan op pad is.

‘Smit’ het hom ‘n guns gevra om vir hom lugtyd ter waarde van R275 saam te neem, aangesien sy vrou hulle skootrekenaar die hele naweek aan vergeet het en sy lugtyd opgebruik was.

Dit sou hom ‘n rit dorp toe spaar. ‘Smit’ het ‘n kort rukkie daarna weer geskakel en gevra of Jaap al die lugtyd gekoop het en of hy nie net die Pin nommer vir hom sal deurstuur nie, aangesien sy vrou moes gaan werk en die lugtyd nodig het.

Hy het ook gesê dat hy (‘Smit’) vir hulle langs die pad sou wag, aangesien hy nog nie ‘n naambord by sy ingang aangebring het nie.

Hy sou hulle dan ook sommer met ‘n lekker stukkie biltong beloon vir hulle moeite.

Jaap moes hom net skakel as hy naby is.

Wat hy gedoen het en slegs ‘n antwoorddiens gekry het.

Daar was ook niemand wat langs die pad gewag het nie.

Skelms raak al hoe meer innoverend met hulle streke en die publiek moet deesdae al meer bedag wees wanneer hulle oproepe kry van ‘wolwe in skaapklere’.

Related Articles

Back to top button