EntertainmentLifestyle

Bak Tannie Poppie se koek jou ‘Paw-Paw’, en wen groot

Om 'n koek te bak sit nie in almal se 'oond' nie. Wat nog te sê 'n Papaja koek. Tannie Poppie van die TV reeks 'Kokkedoor' deel haar geheim eksklusief in 'n video onderhoud met Letaba Herald en sommer haar resep ook! Lees verder, en wen 'n groot geskenk van Suid-Afrika se eie 'Kos-Celebrity'. Die Chuck Norris van kosmaak!

So neem ek toe mos nou deel aan die NG Kerk se Piesangfees koekbak kompetisie hier in Tzaneen.

‘Koekbak is mos maklik,’ het hulle gesê.

‘Jy meng net die bestandele en druk die beslag in die oond,’ het hulle gesê.

Maar daar was een kinkel in dié koekbak kompetisie.

En toe moes ek al weet, hierdie paw-paw gaan die oond verkeerd tref.

Sien, dinge staan toe nou so.

‘Bakkers’ moes hulle hande aan die resep lê van niemand anders nie as die bekende Tannie Poppie Coetzer van Kokkedoor-faam se eie unieke resep.

En om die senuwees meer te laat rys sal sy ook as beoordelaar optree.

Ek verstaan nou van die trane, die moedeloosheid, die teleurstelling die sweet en angs van die deelnemers van die afgelope Koekedoor kompetisie.

En een ding weet ek nou. Dit was nie aansit nie. En dalk ‘n tweede ook, koekbak sit nie in almal se ‘oond-broek’ nie!

Ek probeer met poging nommer een. Foute het ingesluip.  Ek bereken en beraadslag. Maak planne en somme in my kop.

Na die tweede probeerslag, pryk die koek toe op ‘n glasbord versier met handgemaakte gedroogte papaja rose.

Saterdag breek aan. Ek sit af kerk toe en skaam-skaam skuifel ek nader en plaas maar die koek tussen die ander 30 inskrywings neer.

Het my ‘PawPaw’ koek die oond verkeerd getref?

Sien die koek MOET in ‘n ringpan gebak word.

My moed sak soos ‘n koek in ‘n oond soos waneer jy  deur te vroeg oopgemaak het….FLOPS!

Nooit geweet dat daar soveel verskillende vorms van ringpanne is nie.

My koek staan soos ‘n bang graad een(d)tjie met sy skooltas-versiering voor hy sy ‘juffrou-Tannie Poppie’ moet ontmoet.

IMG_9476 (Medium)
Tannie Poppie Coetzer besig om die sowat 30 Papajakoeke te beoordeel.

Die beoordeeling begin.

Die senuwees knaag.

Die koek bak was eintlik net gedoen vir die grap en vir die pret. Maar nou raak die komedie ‘n drama.

‘Koek-kaskenades’

Spanning bou op.

My koek wen tweede plek, en ek en PawPaw stap weg met ‘n eg tradisionele basaar prys.

‘n Speenvarkie, geslag natuurlik.

‘Ek wil net vir die dames van Tzaneen waarsku, mans kan kook. Onthou Kokkedoor is gewen deur ‘n man en in Koekedoor was ‘n man ook tweede,’ basuin tannie Poppie uit tydens die prysuitdeling.

Terug by die huis, kan ek dit nog steeds nie glo nie. Tweede en derde prys is toe gewen deur mans. Geluk aan die wenner, vrouens het mos net daai ekstra ‘touch’ met gebak!

Tong in die kies, ‘n paar tannies het bietjie soos ‘n bakkie suurroom gelyk na die prysuitdeling.

Tuin toe.

Ek moet die mikro-spruiers gaan verstel wat die honde omgewoel het, daar is ‘n muurprop wat se drade lol, en ‘n ‘electric fitting’ moet ‘ge-tune’ word by die spuitfontein.

Dit kan ek ook doen ja.

In die verbyloop, met my gereedskapsboks merk ek dat die Papajaboom neffens die fontein se vrugte begin verkleur, bietjie hoog dink ek.

‘n Besemstok sal dalk bykom…sal ek Papaja muffins probeer?

Laat ek Tannie Poppie dadelik WatsApp want sy sal weet!

Daar wag ‘n lekker geskenkpak vir iemand in Suid Afrika. Tannie Poppie se nuwe resepteboek sowel as een van haar ‘PoppieLêr’ bottels wyn. Geteken natuurlik met ‘n persoonlike boodskap!

Al wat jou te doen staan is om die Papajakoek resep hieronder te bak, en ‘n foto van jou gebak op haar Facebook blad te pos met jou naam en kontak besonderhede en waar jy jouself bevind in Suid-Afrika. Jy kan ook jou foto epos na bertus@herald.co.za

Besoek gerus Tannie Poppie se Facebook blad, klik op: Tannie Poppie van Kokkedoor

Haar tweede Kookboek, ‘Tannie Poppie kook weer’ is einde September op die rakke.

Alle bak en brou en kook geesdriftiges wat altyd opsoek is na ‘n interesante resep of wat een wil deel, besoek gerus die Facebookblad: Food Lovers Recipes en word vandag nog een van die blad se vriende.

Besoek ook hulle kosblog op: www.foodloversrecipes.com

Gallery: Van bak tot beoordeling:

 

Poppie Coetzer se tweede kookboek, 'Tannie Poppie kook weer'
Poppie Coetzer se tweede kookboek, ‘Tannie Poppie kook weer’
'n Bottel Tannie Poppie-Lêr wyn wat iemand kan wen saam een van haar nuwe resepteboeke.
‘n Bottel Tannie Poppie-Lêr wyn wat iemand kan wen saam een van haar nuwe resepteboeke.

Tannie Poppie ‘Kokkedoor” Coetzer, die ‘Chuck Norris’ van kosmaak deel graag haar Papajakoek resep. So in regte Lente Luim:

Tannie Poppie se Papaja Koek Resep

*500ml Koekmeel

*2 Jumbo eiers

*125ml Margarien

*5ml Bakpoeier

*125ml Gekapte neute

*375ml Melk

*325ml Suiker

*5ml Vanieljegeursel

*250ml Fyn Papaja

*2ml Sout

Metode

Sif droë bestandele saam.

Meng Margarien tot baie sag

Voeg gesifte droë bestandele saam

Voeg nou Papaja en 175ml melk by sodat mengsel klam is

Meng vinnig met houtlepel

Voeg eiers, geursel en res van melk by asook neute.

Gooi in ringpan wat GOED gesmeer is met BOTTER

Bak vir 35-45 minute op 180grade

Terwyl koek bak  maak die sous:

Kook die volgende saam tot stroop:

250ml water, 250ml suiker, 250ml papaja pulp 25ml botter.

Gooi warm oor warm koek wat uit oond kom en laat goed afkoel. Keer dan uit en strooi versiersuiker oor.

Video: Tannie Poppie se wenke om van die koek ‘n sukses te maak

Related Articles

Back to top button