EntertainmentLifestyle

Sterkte en eer is ‘n vrou se kleed

"Sterkte en eer is haar kleed, en sy lag oor die dag wat kom."

Die aanhaling uit Spreuke bly vir Adri Kruger, eienaar van Tzaneen Country Lodge, die beste beskrywing van wat vrouwees behoort te omskryf.

“Vrouedag is so spesiaal en vroue word wêreldwyd gevier. Veral in Suid-Afrika is dit ‘n spesiale dag waar vroue vereer word vir hulle bydrae tot die ekonomie en tot die welsyn van onsosiale orde oor die algemeen,” gesels Adri.

En Vrouedag is belangrik vir haar.

Want, vertel sy, waar sy haarself ook al bevind, of met persone gesels, hetsy oor besigheid of sommer by die huis geselsies aanknoop, kom daar altyd gesprekke op oor die unieke uitdagings wat vandag se vrouens moet aanpak.

Daar is ook volgens haar ‘n behoefte vir ystervroue wat hulle plek sal kan volstaan in leierskap posisies.

“Sowel as jong vrouens. Hulle kan hulleself bewys en uitstaan in vir dit waarin hulle glo,” sê sy.

Adri voel, die vrou van vandag moet alles kan doen – voldag werk, kinders grootmaak, kosmaak wanneer sy moeg by die huis kom, kinders help met huiswerk, kyk dat hulle gebad word, stories vertel en nog ‘n 110 dinge doen. En wanneer sy daarmee klaar is, en die kinders in die bed is, veilig in droomland, moet hierdie arme mens (vrou) nog boonop die volmaakte verleidster wees vir die man in haar lewe, vertel sy tong in die kies.

Sy voel dat baie vrouens hulle “kleed van eer” verloor het in hierdie gejaagde lewe waarin ons ons bevind.

‘n Vrou, volgens haar, kan slegs met eer gekleed wees, wanneer sy genoeg rus kry, en ontspannend en gemoedelik ook aan haarself kan tyd gee, is Adri van mening. En daar moet tyd wees.

Daar moet tyd wees vir ‘n koffie met vriendinne. ‘n Tyd om vrolik te wees en ‘n tyd vir oefeninge, want dit bly mos waar dat ‘n gesonde liggaam ‘n gesonde gees huisves of sommer net gaan stap met die hond, dink sy.

Daar is ‘n gesegde wat lui, ‘as jy nie die deurmat wil wees nie, staan van die vloer af op,’ en dis juis die boodskap wat Adri wil oordra.

Sy bewonder vandag se vrou wat met durf en daad die lewe aanpak.

Adri daag alle vroue uit om net weer vir ‘n oomblik te gaan stil staan en na die rose te gaan ruik.

‘Onthou wie jy is, en hoe kosbaar jy eintlik is” sluit Adri af.

Related Articles

Back to top button