Editor's choiceLocal newsNews

Drenkelinge word uit stormsee gebid

‘n Gesin van Tzaneen, René en Clarissa Esterhuizen (sowel as Clarissa se vriendin Petronel Beukes) was die getuies van hoe gelukkig ‘n drietal seiljagvaarders hulself kan ag, nadat hulle op Saterdag 2 Julie in Mosambiek met hul lewens daarvan afgekom het toe hul seiljag by Zimilene vergaan het.

Louis van Wyk en Hellen van Zyl was onderweg van Richardsbaai en het by Inhaca eiland aangegaan om ‘n paar aande daar te oornag. Daar het James Thembe aanboord gegaan om die res van hul reis mee te maak.

Voor hulle die res van hul reis aangepak het, is daar eers Vrydag na die weervoorspelling gekyk.

Volgens Van Wyk was daar geen onheil op pad nie en het hulle begin vaar.

Onweerswolke het omstreeks 04:00 Saterdag begin saampak en stormsterkte winde het begin opsteek.

Die seiljagvaarders het besluit om in die Limpoporiviermond te gaan skuiling soek teen die elemente.

‘n Onverwagse groot golf het egter die boot ‘n paar keer gerol en die boot se mas het ongeveer 2km van die kuslyn af gebreek. Van Zyl het in die proses haar knie seergemaak en haar balans verloor.

Met haar in die water het Van Wyk besef dat hulle in groot moeilikheid was.

Van Zyl kon nie daarin slaag om ‘n tou te vang wat Van Wyk na haar gewerp het nie maar het darem die reddingsboei in die hande gekry.

Van Wyk het aan Thembe opdrag gegee om ook die seiljag te ontruim waarop Thembe self oorboord gespring het. Intussen het die Esterhuizen gesin van Tzaneen, hul kinders en dié se vriende ‘n heerlike aandjie, ten spyte van die ongure weer, by hul Mosambiekse strandhuis geniet.

Karel en René en die ander was onder doenig toe Clarissa haar SMS boodskappe op die tweede verdieping kaan lees het. Sy het die seiljag in die water opgemerk en het dadelik gesien dat die jag in die moeilikheid was. Op Clarissa se alarm het die ander vakansiegangers dadelik reageer.

Met ‘n verkyker is die mense in die water gesien en die Esterhuizens en vriende het hulle die 100m strand toe gehaas om te kyk of hulle kon help.

“As mens op die strand staan kan mens twee duidelike rotsriwwe sien.

Teen die tyd dat ons op die strand was, het die seiljag dit reeds oor die eerste een gemaak,” het René Esterhuizen aan die Herald gesê.

Die Esterhuizens en vriende het gedoen wat hulle kan, maar was magteloos teen die sterk wind en golwe.

James Thembe is eerste uit die water gered waarna die omstanders hardop begin bid het.

Volgens René Esterhuizen was die reuse golwe so groot en sterk dat alle omstanders oortuig was dat die oorblywende twee drenkelinge dit nie sou maak nie.

“Ons het hardop gebid en die Here gesmeek om hierdie mense se lewens. My dogter het die see en die wind in Jesus se naam beveel om te kalmeer. Presies op daardie oomblik het daar ‘n kalmte neergedaal en ons kon die ander twee drenkelinge red,” het René vertel.

Hoewel al drie die seiljagvaarders uitgeput en seer was, het almal dit basies ongedeerd tot op land gemaak.

Die Esterhuizens het hule verblyf vir die res van die naweek gegee en hul ook Maandag gehelp met nuwe klere, ‘n selfoon en finansies asook om met die relevante Mosambiekse owerhede in kontak te kom, waarna hulle die drie in ‘n taxi na Maputo gesit het.

Op 5 Julie het Louis en Hellen die bus na Pretoria geklim en James Thembe het aanboord ‘n veerboot gegaan om terug te keer na sy familie op Inhaca eiland.

Related Articles

Back to top button