Local sportSport

Zelda ontvang haar “Back-to-Back” medalje

'n Plaaslike atleet, Zelda Katzke, het tydens vanjaar se Comrades Marathon haar "Back-to-Back" medalje verower.

Die “Back-to-Back” medalje word gegee aan die atlete wat hulle eerste agtereenvolgende Comrades suksesvol voltooi.

Dit is ‘n groot eer onder die Comrades atlete om dié medalje te ontvang.

“Ek voel bevoorreg en dalk bietjie bederf deur ons Pappa God om die ‘Back-to-Back’ medalje te kon ontvang en dit nog saam met my man, Walt Katzke ook. Almal het net een kans en alles kan goed verloop of nie,” vertel Zelda.

Verder sê sy dat die medalje na twee jaar se stryd teen beserings en siektes kom.

“Dit sit ‘n emosionele tol op elke atleet wat dit aanpak,” sê Zelda.

Sy het vanjaar se marathon aan ‘n vriendin, Charlotte Kleynhans, wat al ‘n paar jaar die stryd teen kanker veg, opgedra.

“Ek het een dag van pyn en leiding gehad, maar Charlotte maak elke dag haar oë oop en begin van vooraf baklei teen kanker. Daar is geen rede om myself jammer te kry nie, baie mense in die wêreld moet elke dag hulle eie Comrades hardloop om aan te hou lewe,” sê Zelda.

Vir die atlete wat die medalje wil verower, is Zelda se raad dat dit twee jaar se toewyding sal neem.

Na die eerste Comrades is daar 365 dae om voor te berei vir die volgende een.

“Een stel tekkies gaan jou nie vir twee jaar hou nie, jy sal vier stelle tekkies klaar draf binne twee jaar wat jou in die omgewing van R 2 000 per stel gaan kos. As jy dit nie vervang nie, sal jy dubbel die geld spandeer aan fisio’s, dokters, ens,” vertel Zelda.

Sy sê ook dat atlete nie hulle tye probeer verbeter na Maart nie, dit is ‘n resep vir beserings.

Zelda kan ook nie aan ‘n ander marathon of sportgebeurtenis dink waar die skare net soveel omgee vir die ou wat laaste klaar maak as die ou wat wen nie.

Ook die trots waarmee die atlete en skare die Volkslied gesing het aan die begin van die Comrades was ‘n belewenis op sy eie.

Sy voel ook dat daar altyd iemand is wat meer as jy geoefen het en vinniger is.

Dit het haar laat twyfel in haarself tot die dag van die Comrades aangebreek het.

Was daar ‘n tyd wat Zelda gevoel het sy wil nie meer die Comrades doen nie?

“Aprilmaand is gewoonlik die maand wat ek dit glad nie meer wil doen nie, en ook nie weet hoekom ek dit doen nie. Tydens al twee my Comrades wedlope was ek gefokus en het in geen stadium gedink aan moed op gee nie,” antwoord Zelda.

Sy kan nie nou al sê of sy volgende jaar gaan deelneem nie, sy wil nee sê, maar die moontlikheid is daar, as die motivering aan haar deur klop.

Zelda sluit af met: “Daar is baie meer aan die Comrades as net 90km, wat in jou lewe ingebou word vir die swaar en moeilike tye.”

Related Articles

Back to top button