NewsSchools

Plasies stormloop Fransies

Plasieland het Saterdag soos een man opgeruk na Phalaborwa vir die jaarlikse “Battle of the best” wintersportgeleentheid.

Plakkate en baniere het luister verleen aan ‘n indrukwekkende Merensky-optog.

Op die rugbyveld het Hoërskool Merensky koning gekraai en elke ligawedstryd gewen.

Van die eerste afskop het elkeen van die vyf spanne met oorgawe hul wedstrydplan uitgevoer, en die vrugte van hul harde werk gepluk.

Die o.14-seuns het ‘n telling van 26-13 op die telbord gesit. Die o.15’s wen met 15-12. Die o.16’s oorheers met ‘n telling van 47-5, nadat die tweedespan die voorbeeld gestel het met ‘n telling van 48-12. In ‘n taai wedstryd triomfeer die Plasie-eerstespan met 8-6.

Op die hokkieveld was die meisiespanne witwarm. Die o.14-dogters verslaan hul opponente 4-0 in hierdie vriendskaplike kragmeting. Doele is aangeteken deur Danielle Kasselman, Zonica van Niekerk , Bianca Prinsloo en Bercha Venter. Die speler van die wedstryd was Danielle Kasselman.

Die o.16-dogters het hulle hokkieseisoen op ‘n hoë noot afgesluit. Na ‘n halftyd-telling van 2-0 jubel hul met ‘n eindtelling van 8-0. Die speler van die wedstryd is Sancha van Niekerk.

Die Allesbeste-eerstespan van Merensky en die Fransies was teen halftyd 0-0 gelykop. In die tweede helfte teken Merensky drie doele aan. Lilly Pohl, Xané du Toit en Delean O’Neill klits elkeen ‘n bal in die doelhok. Die speler van die wedstryd, asook die seisoen,is Michelle Stevens.

Die eerste seunspan het die spit afgebyt teen die Fransies en moes verlaat die veld met ‘n 1-2 telling. JJ Davis het Plasieland se doel aangeteken.

Op die sokkerveld speel die juniorspan gelykop, 1-1, terwyl die seniors 2-0 verloor.

Die netbalspelers het alles in die ligastryd gewerp om die doele te laat sing. Die o.14B-span wen 18-8. Die 0.15A’s plaas ‘n telling 20-7 op die telbord. Die o.16A’s wen 22-14, terwyl die o.17A’s gelykop speel, 12-12.

Die ander spanne moes die knie buig.

Related Articles

Back to top button