Local newsNews

Jackie is Sekretaresse van die jaar

Jackie Eland, ook van die bekende Allesbeste het verlede week 'n meriete sertifikaat as Sekretaresse van die Jaar van die Tzaneen Sakekamer ontvang.

Gedurende die eerste week van Januarie 2014 doen sy formeel aansoek vir ‘n kantoorskoonmaker by Allesbeste.

In haar aansoekvorm, onder toerusting waarmee sy vaardig is, meld sy ‘n besem.

Na ‘n kort werksonderhoud, word die pos haar aangebied.

Sy gryp die geleentheid met beide hande aan en verrig die taak van dag een af met uitnemendheid. Met ingang 1 Augustus 2014 word sy bevorder tot assistent ontvangsdame, ook verantwoordelik vir alle kantoorliasering. Met toewyding, so eie aan haar persoonlikheid, het sy hierdie taak ook met uitnemendheid verrig.

Geen taak aan haar opgelê was te groot nie.

Om rekenaarvaardig te word was vir haar ‘n uitdaging wat sy gou bemeester het.

Met haar sprankelende persoonlikheid, taakgerigtheid, deursettingsvermoë, leergierigheid en deeglikheid is sy met ingang 1 Maart 2015 tot volwaardige ontvangsdame in beheer van die aankope van die onderneming, bevorder.

Sy is ook verantwoordelik vir die skakelwerk ten aansien van alle herstelwerk van die voertuie en toerusting van die onderneming.

Met die aanvrae van kwotasies, prysonderhandeling en aankoop van onderdele en produkte het sy haar gou onderskei as hoogsdoeltreffend en professioneel met ‘n handelswyse wat te alle tye tot voordeel van die onderneming strek.

Haar kommunikasie vaardigheid en beslistheid, verbaal en skriftelik, het gou ‘n kenmerkende styl geword waarmee sy groot agting by die sake ondernemings binne en buite Tzaneen af dwing.

Haar lojaliteit teenoor haar werkgewer, Allesbeste, en integriteit met die uitvoering van haar werk is ‘n groot bate.

Jackie se persoonlikheid is uiters gelykmatig en haar passievolle energie aansteeklik.

Geen sekretariële taak is vir haar te groot om binne haar verantwoordelikheidsveld uit te voer nie. Met deursettingsvermoë en entoesiasme pak sy alle nuwe take aan haar opgedra aan.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button