Local newsNews

Goue Jare, ‘n tuiste van en vir mense

Die Modjadjiskloofse oord, Goue Jare, is 'n plek van versorging en veiligheid vir die ouer lede van ons gemeenskap wat deur die samelewing se krake geval het.

Ry mens die dorp van Tzaneen se kant af binne, duik die ingang amper dadelik aan die linkerkant op. Dominee Dewald Vermaak is vinnig om te kom groet en neem die Heral persoonlik op ‘n begeleide toer deur die sentrum. Oral waar jou oog val sien jy tekens van hoop, wat midde in die swaarkry, soos ‘n kosbare vlammetjie vonkel.

Dominee Vermaak is al meer as tien jaar by hierdie wonderlike inisiatief betrokke. In 2010 het hy as voorsitter oorgeneem en sedertdien was hy aan die stuur van sake. Hy het destyds by Daan Roelvert oorgeneem as voorsitter. Verlede jaar het Fred Hoffman van Kings Court skool as ondervoorsitter bedank en sy plek is deur Ina Terblanche ingeneem. Gerhard Viviers het ‘n beroep gekry Wolmaransstad toe en Pastoor Malcolm Immelman is as addisionele lid verkies. Ansie van der Merwe is ook ‘n lid van die bestuur. Van die 2010 span is daar vandag slegs ds Dewald en sekretaris David Olivier oor.

Hulle is nie uit op winsbejag nie. Inteendeel dis maar hand-tot-die-mond sake meeste van die tyd. “Ons het ‘n passie vir bejaardes en wil hulle versorg en help dat hul menswaardigheid behoue bly. Hierdie is ‘n plek waar diegene in hul goue jare met liefde bedien word,” het Ds Vermaak aan die Herald gesê.

Die bejaardes word mooi na gekyk by Goue Jare. Van boeke wat gelees kan word, tot ‘n kits haarsalon is beskikbaar vir hul gebruik. Inwoners kan uit twee terme van versorging kies. Selfversorging sal ‘n bejaarde R3400 per maand uit die sak jaag terwyl volle versorging R4500 ‘n maand beloop. Hierdie inkomste is egter nie naastenby genoeg om die sentrum aan die gang te hou nie en hulle is 100% afhanklik van skenkings. Verlede jaar het die gawe manne van RoadHoggs byvoorbeeld met hul ysterperde ‘n draai gaan maak en die bejaardes trakteer met skenkings van breekware asook items op hul wenslys.

Dominee Dewald en sy span is ‘n klomp raakvatters mét harte. 37 personeellede versorg tans 55 inwoners. ‘n Bewerking wat soms effens uitdagend kan raak. Die lot van hierdie mensies, voor die Goue Jare hulle oor hul ontferm het, is genoeg om mens se hart te breek. Volgens Dominee Dewald is dit niks vreemds vir mense om hul ouers daar af te laai en van hulle te vergeet nie. Daar is gevalle waar die kinders in die hele tyd wat hy by die sentrum betrokke was, nog nooit hul ouer gaan besoek het nie.

Inwoners wat wil help kan beslis ‘n verskil maak. Die sentrum het ‘n ellelange wenslys van dinge wat nodig is vir hulle om behoorlik na die behoeftige bejaardes om te sien. Linne is byvoorbeeld ‘n gebruiks item wat vinnig tot niet raak. Weens die aard van gebruik, word linne byna daagliks gewas en beskadig dit ook vinnig. Doeke vir volwassenes is nog iets waaraan hulle ‘n ernstige tekort het. Geldelike skenkings kan ook operasies heelwat vergemaklik. Dit help Goue Jare byvoorbeeld om ‘n tipe veiligheidsnet van kroniese medikasie op te bou vir die kere wat die staatshospitale die bal laat val.

Sonder die borge wat hul maandeliks bystaan sou hierdie sentrum lank reeds nie meer bestaan het nie.

Lede van die gemeenskap wat betrokke wil raak is welkom om Dominee Dewald direk by dewaldrika@telkomsa.net te kontak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button