Local newsNews

OPVOLG: Kelly ontslaan, sterk aan na krokodilaanval

Kelly Trauernicht (32) die vrou van Phalaborwa wat verlede week uit ‘n krokodil se kake gered is, is ontslaan uit die hospitaal in Polokwane waar sy aangesterk het.

Haar man, Dawie het tydens ‘n telefoniese onderhoud vertel hoe dit beter gaan met sy vrou, maar dat hulle steeds bekommerd is oor haar wonde.

“Sy lyk beter, sy praat en sit regop, maar die wonde is nie mooi nie” het hy gesê. “Ons hoop maar vir die beste en dit gaan ‘n lang herstel wees” het hy gesê.

Die hele land het hierdie week kennis geneem van die aaklige toneel wat homself langs die Selatirivier afgespeel het.

Trauernicht besef watter groot genade dit is dat sy leef.

“Toe die krokodil my gryp het ek gedink dis verby, ek het self nog nooit gehoor van mense wat so iets oorleef het nie, maar ek het uigevind dat daar is en ek was een van die gelukkiges. Ek is bly ek lewe nog, die Here was by my” het sy gesê.

Twee van die mans wat hul lewe op die spel geplaas het om Trauernicht uit die water te red het ‘n onderhoud aan die Phalaborwa Herald toegestaan en die toneel gaan uitwys waar die “amper-tragedie” plaasgeving het.

Die twee mans wat beweer dat hulle die enigste twee was wat ‘n aktiewe rol gespeel het in die reddingspoging, het in detail vertel hoe die krokodil nie die vrou wou laat los nie en hoe hulle haar aan die hare uit die krokodil se bek getrek het.

Moshe Mathebula (24) en Robert Mashale (62) het vertel hoe hulle nie dink dat hulle helde is nie.

“Ek het net in my hart gevoel dat ek moet help, want dit is ‘n mens” het Mathebula gesê.

Volgens die twee mans is die groot krokodilprobleem te danke aan plaaslike inwoners wat na bewering diere in die bos afslag en die afvalvleis in die water gooi vir die krokodille.

Die bewerings kon egter nie met bewyse gestaaf word nie, maar die gevaar is dringend.

‘n Week na die voorval het plaaslike hengelaars weereens begin om op die presiese plek waar Trauernicht aangeval is, vis te vang.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button