Editor's note

Swak dienslewering lei tot samewerking

Onlangse verwikkelinge in Modjadjiskloof is dalk net die begin van regte verandering in dié dorp.

Na jare van swak tot geen dienslewering, lyk dit asof inwoners uiteindelik saam die wa deur die drif begin trek.

Die nuutverkose Inwoners Vereniging is dalk net die regte stok om in die burgemeester se ribbes te steek.

Inwoners van alle kleure en geure het die vergadering Maandagaand in Laerskool Duiwelskloof se skoolsaal bygewoon en hoewel humeure vlambaar was, het alles in ‘n driftige maar produktiewe gees van samewerking geskied.

Vrydagaand (more) vind die lank verwagte vergadering tussen die Inwoners Vereniging, inwoners en die burgemeester om 18:00 op dieselfde plek plaas. Of dit verandering gaan bring sal net tyd leer.

Dit is egter ‘n baie goeie wegspring vir Modjadjisklofers wat reeds vir jare gebukkend gaan onder ‘n finansieël onverskillige Munisipaliteit.

Die res van ons land se Munisipale kiesers kan ook gerus hierdie stryd volg. I

n dieselfde Modjadjiskloof is dit verblydend om te sien hoe inwoners en plaaslike besighede die afgelope tyd kon handevat om saam die uitdagings wat hul in die gesig staar die hoof te bied.

Krag en water is kleurblind en hoe gouer SuidAfrikaners dit besef hoe beter.

Dié dorpie met sy bykans ongekende potensiaal vir toerisme kan net van hier af vorentoe beweeg en die dag kom wanneer water in die pype, verwyderde riool en brandende ligte heeltemal alledaags sal voel.

Tot dan is dit egter belangrik dat inwoners nie hierdie huidige momentum van samewerking verloor nie. Mens kan maar net hoop dat Vrydag se saal net so vol, indien nie voller as Maandag s’n sal wees.

Kom nou Modjadjiskloof, julle redding lê in jul eie hande.

Related Articles

Back to top button