Editor's choiceLocal newsNews

Suid-Afrika: Een sokkerbal op ‘n slag

Hy het die nie eens self vir my gesê nie. Kleinsus het my gebel en vertel. Maar wag, ek spring nou te ver vorentoe.

Eendag, iewers in 2010 kuier Kleinsus by Middelbroer. Tydens die kuier ry hulle winkel toe vir ‘n paar stukkies vleis om te braai. Terug by Middelbroer se bakkie gewaar Kleinsus die balle. ‘n Hele klompie sokkerballe. Daai wat jy sommer by die supermark koop. As lid van ‘n trotse rugby en krieket familie, trek dit natuurlik dadelik Kleinsus se aandag. “En die sokkerballe, het jy skielik ‘n liefde vir die ronnebôl sport ontwikkel?” vra sy vir hom.

Nou diegene wat vir Middelbroer ken, sal vir jou sê hy is nie eintlik ‘n man van vele woorde nie. “Dis die kinders s’n. Dis Wêreld Beker, die kinders moet balle hê,” antwoord hy. Terug by die huis word ‘n bruisdrankie geskink en die braaivuur aangesteek. Kleinsus se belangstelling is egter nou geprikkel en sy laat dit nie daar nie. “Van watter kinders praat jy nou?” wil sy weet.

Oor die loop van die volgende uur ryg sy uiteindelik die storie uit Middelbroer uit. In daai dae het Middelbroer anderkant Kakamas op ‘n projek gewerk as kontrakteur wat opleidingsmateriaal ontwikkel. Hy het redelik baie tyd in sy bakkie spandeer soos hy kruis en dwars oor dié verlate provinsie beweeg het. Mettertyd het die hordes rooigrond sokkerwedstryde sy aandag begin trek.

Min of meer niks was ooit dieselfde nie. Die getal spelers in die spanne, die uniforms, die toestand van die velde en die ouderdomme het elke keer radikaal verskil. Die een konstante was die balle. Byna sonder uitsondering was dit sulke voosgeskopde vaal balle wat nie net al beter dae geken het nie, maar sommer ook beter dekades. En so begin Middelbroer met sy eie bydrae tot die suksesvolle Wêreld Beker van 2010.

Hy maak vir homself ‘n reël. Elke keer as hy by ‘n supermark inkopies doen moet hy ‘n sokkerbal koop.

Die bal word dan by die res van die balle agter op die bakkie, veilig onder dak geplaas. Elke keer as hy verby een van hierdie informele wedstryde ry, stop hy en klim uit. Middelbroer stap dan na die agterkant van die bakkie toe en haal ‘n bal uit. Sonder om ‘n woord vir enige iemand te sê skop hy dan die bal vir die spelers en klim dan, steeds sonder enige kommunikasie, terug in sy bakkie en ry.

So het Middelbroer oor die loop van daardie jaar hordes sokkerballe vir behoeftige kinders geskop. Sonder enige borg of hulp van die regering of enige van daardie sakemanne met hul drome en beloftes van opheffing. Dit was maar net ‘n geval van ‘n gewone ou wat iets wou regmaak. Een supermark sokkerbal op ‘n slag. Twee naweke gelede het ek by Middelbroer en Kleinsus gaan kuier.

Sondag braai ons ‘n vleisie. Wel om eerlik te wees, Middelbroer braai die vleisie en die res van ons (Ek, Kleinsus en Die Ma) kekkel land en sand voort. Oudergewoonte sê hy nie te veel nie. Skielik onthou ek die sokkerballe en ek dink aan al die gewone mense wat tans besig is om derduisende liters water vir ons land se droogtegeteisderde gebiede aan te ry.

Ek sien ‘n foto op sosiale media van ‘n konvooi trokke met wapperende Suid-Afrikaanse vlae reguit op pad Vrystaat toe, swaar gelaai van die water. En ek dink aan Penny Sparrow en Chris Hart. Ek dink aan Velaphi Khumalo se hartseer woorde en die President se hekselaggie. Ek dink ook aan al die doodnormale Suid-Afrikaanse burgers, wat elke dag deur die lewe stoei.

Mense wat nie ‘n persverklaring uitreik wanneer hulle vir mekaar iets doen nie. Mense wat niks in ruil vir hul hulp en bystand kry nie. Gewone mense. Ons mense.

Mense wat weet, die regte lewe het nie ‘n deel-knoppie of ‘n “like” een nie. En skielik is die nuwe hoop soos ‘n skraal vlammetjie wat binne my hart begin dans.

En ek dink, nee ek wéét, ons gaan okay wees.

Related Articles

Back to top button