Editor's choiceLocal newsNews

Phalaborwa vrou uit krokkodil se kake gered

‘n Phalaborwa vrou, Kelly Trauernicht (32) is Sondagmiddag gedurende ‘n familie ontspanningsuitstappie na die SelatiRivierbrug op die Micapad deur ‘n krokkodil aangeval.

Plaaslike hengelaars wat die voorval sien gebeur het, het Trauernicht te hulp gesnel en die krokodil met stokke en klippe aangeval om dit af te skrik. Hulle het daarin geslaag om die slagoffer uit die krokodil se greep te red. Jaco Gericke, plaaslike paramedikus sê: “Ons het die oproep teen 12:19 ontvang. Die vrou het ernstige bytwonde aan haar regterarm en lyf gehad. Ons het haar na die plaaslike staatshospitaal geneem vir behandeling waarna sy na Polokwane oorgeplaas is.”

Trauernicht en haar gesin het na bewering ‘n uitstappie geniet na die brug waar hul naby die water gesit en visgevang het.

Volgens ooggetuies het die krokodil die vrou van die oewer af gegryp.

“Die plaaslike hengelaars was die helde. Hulle optrede het beslis die vrou se lewe gered” het Gericke bygevoeg na afloop van die gebeure.

“Ons is ook dankbaar vir die bystand van Michael Smit en Maponya 911 amulansdiens wat bygedra het daartoe dat die vrou vinnig hulp kon kry” het Gericke gesê.

Zian van den Berg, voorsitter van die plaaslike Herpetologiese Vereeniging in samewerking met Natuurbewaring gaan die week ‘n ondersoek instel rondom die gebeure en sal vasstel of dit ‘n probleemdier is.

“Ons wil vasstel of daar genoeg water is en aflope vir die dier om weg te beweeg van bedreigings,” het van den Berg gesê.

“Ons glo dat die krokodil maar net die geleentheid gesien het vir maklike kos en toe sy fout agter gekom het. Mense moet ook verstaan dat dit ‘n natuurlike rivier is en dat krokkodille natuurlik daar voorkom.” het van den Berg bygevoeg.

Die publiek word gewaarsku om versigtig te wees wanneer hulle naby waterpoele en riviere beweeg.

Die plaaslike riviere word bewoon deur krokodille en ander gevaarlike diere en die publiek word gemaan om verantwoordelik op te tree en nie hulself onnodig in gevaar te stel nie.

 

Related Articles

Back to top button