Editor's choiceLocal newsNews

Totsiens Jonah

Een van Letaba Herald se joernaliste groet Jonah Lomu.

Ek was maar ‘n seuntjie van 19 toe hy in ons lewens gekom het. In daai dae was ons maar afgesonder van die res van die wêreld.

Ons het ons eie grotes gehad. Volgens ons natuurlik die heel grootstes. Die probleem was, ons het maar min kans gehad om ons grotes teen hulle grotes te meet.

‘n Jarelange isolasie beleid, het meeste ander lande van ons puntjie van Afrika af weggehou. Ons het maar teen mekaar gespeel. Rugby, krieket, sokker, tennis. Noem maar op.

En toe kom die Wêreld Beker van 1995. En hy. Jonah Lomu.

Ek was net klaar met skool en het groot drome gehad. Ek wou oorsee gaan. Ek wou krieket vir Suid-Afrika speel. Boeke skryf.

Ek onthou vaagweg daai eerste wedstryd teen die Aussies.

As ek reg onthou, het Joel Stransky ‘n baie goeie wedstryd gehad, hoewel Pieter Hendricks se om-Campese-hardloop oomblik, waarskynlik die stukkie is wat meeste mense sal onthou.

Toe die Bokke in ‘n deurweekte Durban teen die Franse deurskuur na die eindstryd, was ek op toer in die destydse Mafeking area.

Ek onthou ons het die wedstryd in ‘n kuierplek gekyk. Aan die einde het ek omgekyk en ons kelner agter my sien staan. Sy oë op die skerm gevries terwyl hy ‘n gebed geprewel het.

Intussen was Nieu Seeland en hulle Jonah aan’t stoomroller na die ander plek in die finaal toe.

Wat Jonah aan die Engelse gedoen het is al baie oor geskryf.

Groter as ‘n mens.

Vinniger, sterker.

Vreesloos.

Oor die loop van die volgende paar weke was Jonah die hoofnuus in ons land. In elke radio gesprek, elke TV program.

Oral het ons gehoor. Lomu. Jonah Lomu. Die doellyn monster.

En hy is op pad. Hy kom vir ons.

Die eindstryd het ek en my vriende by die Mafeking Rugby Klub gaan kyk.

Ons het die oggend vroeg by ‘n winkelsentrum die nuwe Suid-Afrikaanse vlag op ons gesigte laat verf.

By die Klub het ons vinnig die saaltjie volgepak. Die wedstryd het eeue gevat om af te speel.

Dan lyk dit of ons die momentum het, dan hulle.

Uitstaande vir my, was hoe ons eie Bokke hul lywe op die spel geplaas het om vir Jonah op te pas. Joost. Japie. Pieter. Almal het ‘n beurt gehad. Elke keer het ons hom gestop.

Toe Joel daai bekende laaste skepskop deur die mikke jaag, het ek geweet; hy’s ons s’n.

Daai beker kom Suid-Afrika toe.

Toe die eindfluitjie blaas het ons histeries geword. My eerste gedagte, was dat nie eens Jonah Lomu ons kon keer nie.

Vanoggend het ek in Letsitele opgestaan en my oggend koffie aanmekaar geslaan.

Soos gewoonlik gou ‘n oog op my Facebook gegooi terwyl ek die koffietjie geniet het.

Soos ‘n Silwervaring-skouer teen die borsbeen, het die nuus my getref.

Jonah Lomu oorlede. Hulle Jonah, wat mettertyd eintlik maar ook ons Jonah geword het. Johna Lomu het 63 toetswedstryde vir die All Blacks gespeel. 63 trotse, meedoënlose toetse. Behalwe Suid-Afrika, het hy teen amper almal wat tel ‘n drie gedruk in daai 63 toetse.

Ons praat natuurlik nie van die talle drieë wat sy spanmaats teen ons gedruk het omdat helfte van ons span besig was om Jonah te probeer grond toe vat nie.

Hy het almal in die wêreld iewers geklop.

Op die jonge ouderdom van 40 kon hy egter nie die lewe klop nie.

Rus sag en in vrede. Ons Jonah.

Related Articles

Back to top button