Editor's choiceLocal newsNews

Letsitele keelvol vir beeste in strate

Letsitele inwoners is keelvol vir 'n beesboer se diere, wat amper elke dag die dorp se strate invaar.

Letaba Herald het gaan loer en soos aan die fotos gesien kan word, is die beeste heel op hulle gemak wanneer dit by ander mense se grasperke en tuine kom.

Een bees het sommer vir ‘n wyle op ‘n inwoner se voorstoep gaan uitspan.

Volgens Ellie Potgieter, hoofinspekteur van die Letaba DBV, is hierdie beeste al ‘n geruime tyd ‘n probleem.

Die DBV het reeds daarin geslaag om die eienaar van die diere op te spoor en by talle geleenthede hom oor sy diere gaan konfronteer.

Tydens elke geleentheid het hy talle beloftes gemaak van ‘n beeswagter aanstel en sy diere op sy grond hou.

Hierdie beloftes hou egter nooit lank nie en voor ‘n maand verby is, loop die beeste maar weer in die strate.

Die beeste hou ‘n gevaar in vir verkeer wat deur Letsitele ry.

As mens die groot aantal swaarvoertuie wat daagliks deur hierdie dorpie ry in ag neem, is ‘n ernstige ongeluk glad nie ver nie.

Die DBV moes al by ‘n paar geleenthede uitry en genadedood gaan toepas wanneer een van die diere beseer is.

So ook moes hulle al die beeste gaan red van vuur, deur die plaas se heining te gaan knip, toe ‘n veldbrand die diere se veiligheid bedreig het.

By verdere navraag het Potgieter gesê die plaaslike DBV het nie die nodige fasiliteite om na sulke groot groepe groot diere om te sien nie en die plaaslike skut is bykans tot niet.

Herald het in Letsitele gaan soek na die eienaar van die diere, maar kon g’n hond haar-af maak nie.

Besighede in die omgewing (wat nie hul name genoem wil hê nie) het egter gesê die eienaar is ‘n inwoner van ‘n informele groep huisies net buite die dorp.

Volgens Neville Ndlala, woordvoerder van die Groter Tzaneen munisipaliteit, was hulle nie bewus van die probleem nie, maar sal daar nou daaraan aandag gegee word.

Inwoners kan, wanneer hulle die beeste gewaar, vir Johannes Malatji op 083 939 0177 skakel.

Hou die Letaba Herald se webwerf dop vir meer inligting.

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button