Local news

Pryse kan styg oor koue, brande

Die afgelope twee weke het die landbousektor in Limpopo skade gely as gevolg van uitermatige koue toestande met temperature onder vriespunt en verwoestende brande.

Deidré Carter, hoofuitvoerendebeampte van Agri Limpopo, sê die organisasie is in kontak met baie boere wat radeloos is. “Aartappelboere, tamatieboere, soetrissies, avokado’s, sitrus, bessies, makadamias en ander kontantgewasprodusente het aansienlike verliese gerapporteer weens die ongekende koue toestande. Dit lei tot vrese vir ’n aansienlike vermindering in die beskikbaarheid van hierdie noodsaaklike kommoditeite op die mark.

‘n Lugfoto wat die omvang van die brande buite Tzaneen wys.

“Dit sal waarskynlik ‘n styging in pryse veroorsaak wat verbruikers raak.” ‘n Reeks brande in die Tzaneen-omgewing het ook verlede week ongeveer 800 hektaar landbougrond, plantasies en veld in ‘n natuurreservaat verwoes. “Die brande het die ellende van boere wat reeds van die ongunstige weerstoestande wankel, verder vererger,” sê Carter.

Lees ook: JJ is Limpopo se beste jongboer

Carter en Agri Limpopo het die Letaba Fire Protection Association (LFPA), Agri Letaba, asook die lede van die Tzaneen-, Letsitele- en Haenertsburggemeenskappe bedank wat as vrywilligers die brande bestry het. “Hulle vinnige optrede en onbaatsugtige toewyding het verdere verwoesting verhoed en lewens gered,” sê Carter. Die volle omvang van die skade moet volgens Carter nog bepaal word, maar vir haar is dit duidelik dat die landbousektor in Limpopo beduidende terugslae ervaar het.

“Dit is van uiterse belang dat rolspelers saam staan om boere te ondersteun. “Ons doen ‘n beroep op staatsagentskappe, organisasies sonder winsbejag, besighede en individue om in solidariteit met die boere wat geaffekteer is te staan. Saam kan ons landbou in Limpopo herbou om voedselsekerheid en ekonomiese stabiliteit te verseker,” sê Carter.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button