Editor's choiceLocal newsNews

Leydsdorp kry weer nuwe lewe

Limpopo se mees geskiedkundige dorpie, maar ongelukkig ook mees vergete, is bestem om uit die dood op te staan.

Verbeterings, aanbouings en opgradering van die geskiedkundige myndorpie is reeds ver gevorder en kan binnekort weer ‘n gewilde toerisme bestemming in die omgewing word.

Die eienaars beplan om in Oktober reeds weer oop vir besigheid te wees.

Die HERALD het onlangs die bouvallige oorblyfsels van die eens florerende Leydsorp Hotel besoek.

Dit was ‘n aangename verrassing om te sien hoe die bouval weer ontwaak en opgeknap word om die ryke geskiedenis van die verlede te laat herleef.

Benewens die kroeg, wat klaar weer lyk na ‘n gesellige kuierplek, word die hotelkamers en ander geriewe ook herstel en opgegradeer.

Die eienaar van die eiendom, Kobus Smuts van Nelspruit, het aan die HERALD gesê dat hy Leydsdorp wil laat herleef as ‘n aantreklike bestemming vir toeriste, maar veral ook vir inwoners van die omgewing as ‘n gesellige wegbreek plek.

Smuts besit ook die aangrensende wildsplaas en saam met die bestaande geriewe op die plaas en alles wat by die Leydsdorp Hotel beskikbaar gaan wees, kan dit inderdaad ‘n baie gesogte aantrekkingskrag word.

Wat veral ‘n baie groot asantrekkingskrag gaan wees is die talle mynskagte op Smuts se plaas wat ook oopgestel gaan word vir toeriste.

In die verlede was omtrent net die hotel toeganklik vir besoekers, maar vanaf Oktober gaan dit ‘n baie breër herlewing van die ou Leydsdorp wees omdat die skagte oop gaan wees vir besigtiging.

Volgens oorlewering strek een van die skagte dwarsdeur die koppie agter die Leydsdorp Hotel.

Daar is ook verskeie ander skagte wat nou vir die eerste keer oopgestel gaan word vir toerisme.

Water, een van die grootste redes waarom Leydsorp as toeriste-oord in die verlede soms nie tot volle reg kon kom nie, is ook nou opgelos. Benewens die boorgat by die hotel het Smuts ook ‘n baie vriendelike aanbod van die eienaar van ‘n naburige plaas, Berend Vorster, gekry om te help met noodsaaklike water indien nodig.

Smuts het ook voldoende water op sy plaas, weliswaar ‘n entjie weg, wat hotel toe gepomp kan word sou die aanvraag dit regverdig.

Leydsdorp het in 1870 ontstaan toe Edward Button en James Sutherland goud in die Murchison bergreeks ontdek het.

Dit het tot ‘n goudstormloop gelei en prospekteerders van dwarsoor die wêreld het hierheen gestroom.

Op 1 Oktober 1890 het destydse president Paul Kruger Leydsdorp tot ‘n stad verklaar.

Kruger, bekend as ‘n toegewyde leeujagter, het Leydsdorp gereeld besoek en sy huis staan steeds daar.

Dit was waarskynlik destyds die kleinste stad met die grootste begraafplaas in die wêreld.

Leydsorp is na die toentertydse sekretaris van die ou Transvaal, dr William Leyd, vernoem.

Op sy dag het meer as 3 000 mense in Leydsorp gewoon en was bekend vir sy agt kroeë.

Ongelukkig het malaria en die ontdekking van goud aan die Witwatersrand ‘n spoedige einde tot Leydsdorp se glorie gebring en bly net ‘n horde stories oor leeujag, karaktervolle delwers, dames van die nag en ander kroegstories oor.

Danksy die nuwe eienaars kan Leydsdorp dalk binnekort weer ‘n gesellige, bedrywige kuierplek wees.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button