Editor's choiceLocal newsNewsSport

Letaba verloor in puik wedstryd

Letaba se eerstespan het Saterdag die onderspit met 28 - 15 gedelf in Pietersburg teen Noordelikes.

Daar moet melding gemaak word van skeidsregter, Willie Coetzee wat ‘n puik wedstryd met die fluitjie gehad het. Al die toeskouers was dit eens dat hierdie een van die beste wedstryde van die jaar was.

‘n Letaba eerstespan wat se agterlyn veral vanjaar ernstig deur beserings ontwrig is, het dapper gespeel en weer eens die spel voorlangs oorheers. Indien daar egter met die vyfde losskakel en agste senterpaar vir die seisoen opgedraf word, is daar geen kontinuiteit nie en sal dit altyd moeilik gaan teen ‘n ervare span soos Noordelikes.

Voorlangs was Quinten Kruger, Scheepers Lubbe, JP Schwartz, Piccaso Coetzer en Eben Fichardt ysters. Uwe Sauwer, wat nou self eers onlangs van bosluiskoors herstel het en nieteenstaande die fiksheid wat gelol het, het beindruk met sy kraglopies.

Slot, Marnus Labuschagne moes die veld vroeg verlaat met ‘n besering en dit lyk of die beseringspook net nie wil wyk by Letaba nie.

Uwe Sauwer en plaasvervanger, Gom Vuma het Letaba se drieë gedruk en Leroy Ndlovu het met sy skopskoen vir die res van die punte gesorg.

Letaba se tweedespan het in ‘n klipharde wedstryd Dendron geklop met 28-10. Letaba het ‘n baie jong tweedespan en na ‘n aanvanklike gesukkel vroeër in die seisoen weens die baie beserings in die klub, het hulle hulle ritme nou begin vind en speel hulle prag rugby.

‘n Baie jong agterlyn met hope spoed, veroorsaak groot probleme vir hulle teenstanders. Brendon Ramotsama, ‘n jong senter, het hierdie jaar eers begin rugby speel en daar is ‘n blink toekoms vir hom by Letaba.

Dendron het die wedstryd probeer oorheers met hulle swaar pak, maar verbete verdediging en harde hardlooprugby het uiteindelik Letaba as die oorwinnaars van die veld laat afstap.

Uitblinkers vir Letaba was Aalwyn van der Lith, Janus van Loggenberg, die broers, Wikus en Derik Steyn. Losskakel, Gom Vuma was takties briljant en heelagter, Lenus van Rooyen was weer eens ‘n rots onder die hoë balle en Marnu van Wyk het beindruk op vleuel.

Brendon Ramotsama (2), Marnu van Wyk en plaasvervanger, Wally Denton het drieë gedruk vir Letaba en Gom Vuma het alvier die drieë verdoel.

Related Articles

Back to top button