Sport

Ontmoet Letaba se nuwe breier

Die bekende Curriebeker-rugbyspeler en oud-Vossie, Johan Bannink is Letaba-rugbyklub se nuwe afrigter.

Bannink sê dat hy uitsien om klubrugby plaaslik te ontwikkel en hoop om Letaba na hul gloriedae terug te lei. “Ek wil seker maak dat die manne na skool kan voortgaan om op Tzaneen rugby te speel,” vertel Bannink. “Ons kort tans spelers en veral voorspelers. Die ouens moet daarna uitsien om vir oefeninge op te daag,” sê Bannink wat as vasskopstut, agtsteman en selfs in die agterlyn vir die Bulle en die Cheetahs uitgedraf het.

Bannink woon op Tzaneen en het ‘n langtermynplan om klubrugby op die dorp te ontwikkel. “Ons bied professionele, tegniese afrigting en ‘n goeie rugbykultuur. Elke oefening is vooraf beplan en die manne doen drills wat ek by die Cheetahs en die Bulle gedoen het,” sê Bannink. “Ek is nie gepla oor politiek nie, al wat saak maak is wat tussen die vier lyne gebeur,” vertel hy. Bannink se rugby-CV is indrukwekkend.

Bo: Johan Bannink in aksie. Foto: Verskaf

In 2006 en 2007 is hy gekies om vir Limpopo in die o.13-Cravenweek te speel. In 2010 is hy as o.16-speler vir Grant Khomo-week gekies en in 2017 het hy as o.17-speler in die Cravenweek uitgedraf. Hy was as oud-Vossie deur André Hay afgerig en beskou Hay as ‘n mentor. In 2012 het hy vir Hoërskool Garsfontein uitgedraf en gekies vir die o.18-Blou Bullespan vir die Cravenweek.

Also read: Lees en kyk: Klubrugby kraai koning by James Tolmay Dag in Tzaneen

Hy het in 2013 die o.19-Blou Bulle verteenwoordig en het in 2014 en 2015 vir die o.21-span uitgedraf. In 2016 het hy sy Curriebekerdebuut vir die Cheetahs gemaak. Later in dieselfde seisoen het hy sy buiging vir die Blou Bulle onder afrigting van Nollis Marais, gemaak. Hy het ook vir Tuks se eerstespan in 2017 en 2018 gespeel. Bannink is met Anna getroud en hulle spog met ‘n seuntjie van ses maande wat die familiename, Arend Johannes Bannink, dra.

Bannink het ook sy eie besigheid, Lambda Agritech op Tzaneen op die been gebring. Hy vertel ook dat dit vir hom ‘n persoonlike ervaring was toe Letaba se eerstespan tydens die James Tolmay-rugbydag teen Hay se Kruinies-span gewen het. “Dit was my eerste wedstryd as afrigter en coach. André het my ge-coach, so dit het goed gevoel om daardie een te wen,” vertel Bannink.

“Klubrugby gaan oor watter dorp die beste is en ons speel vanjaar twee ligawedstryde teen Kruinies,” verduidelik hy. Om deel te word van Letabarugbyklub, of om saam met Bannink en sy span te oefen, skakel hom op 081 805 3979.

Related Articles

Back to top button