Local news

Elziné wen nasionale skoonheidskompetisie

Elziné Kotzé, ‘n plaaslike skoonheid van Georges Valley het die afgelope naweek as die wenner in haar ouderdomsgroep van die Miss Teen 2022 skoonheidskompetisie weggeloop met die titel Miss Teen International SA 2022.

Kotzé het saam met 31 deelnemers van regoor Suid-Afrika die 15- tot 16-jarige-kategorie van die kompetisie aangepak. Sy het vroeër die dag ook aan twee ander kompetisies in Pretoria deelgeneem.
Sy vertel dat sy juis vir dié kompetisie wat deur Pageants SA aangebied word, ingeskryf het om meer ervaring en blootstelling buite die Limpopo-provinsie te kry. “Vir my was dit so lekker om aan meer as een kompetisie deel te neem.

Ek het vir elke kompetisie drie keer op die loopplank verskyn,” vertel Kotzé, wat ‘n graad 10-leerder by Stanford Lake College in Magoebaskloof is.
Vyf beoordelaars het Kotzé as die nuwe Miss Teen International South Africa 2022 gekies gebaseer op haar video-bekendstelling, haar selfvertroue, loopplanktegniek, algehele voorkoms en natuurlike skoonheid onder andere.

LEES OOK: Lynnmarie becomes Miss Mini South Africa

Sy kwalifiseer hiermee ook om aan die Miss Teen World 2023-skoonheidskompetisie deel te neem wat volgende jaar in Turkye sal plaasvind.
Sy het in Julie 2019 ook haar ouderdomsgroep in die Little Miss Planet-kompetisie in Bulgarye gewen en het in Desember 2019 weer die standaarde gelig toe sy in Indië as die algehele Grand Prix-wenner asook die wenner van die Afrika-vasteland van die Little Model Earth-kompetisie aangewys is. Sy word deur die agentskap, Ace Models Limpopo Central verteenwoordig.

“Ek is betrokke by ‘n Scouts-groep in Haenertsburg vir ses- tot 11-jariges waar ek vrywillig help met die aanbied van die klasse. Ek hekel ook op die oomblik saam met my maats by Stanford Lake College teddies vir die kinders van Thusanang Trust se crechès,” vertel Kotzé wat ook deel van die skool se Round Square-komitee is.
Dans is een van haar stokperdjies en Kotzé geniet dit ook om aan konserte by Stanford Lake College deel te neem.

Op die sportveld geniet sy dit om op die atletiekveld aan die hoogspring deel te neem. Sy het van ‘n jong ouderdom af reeds ritmiese gimnastiek klasse geniet en het by Zanis Gimnastiek Akademie en Infinite Gymnastics tot op vlak 7 aan kompetisies deelgeneem. In haar vrye tyd hou sy daarvan om te water-ski en perd te ry. “Fotografie, en veral natuurfotografie is ook een van my passies,” vertel Kotzé. Sy neem graag foto’s van wolkformasies.

Kotzé het ‘n hart vir mense en vertel dat sy graag in die toekoms liefdadigheidswerk wil doen wat mense ondersteun. Prinses Diana is vir haar ‘n inspirasie omrede sy met liefdadigheidswerk soveel mense se lewens aangeraak het.

Related Articles

Back to top button