CrimeEditor's choiceLocal newsNews

OPVOLG: Hoedspruit-jaagtog eindig teen twee Tzaneen-winkels

Twee winkeleienaars het Sondag in die vroeë oggendure 'n onaangename verrassing gekry toe 'n voortvlugtende verdagte in 'n gesteelde bakkie teen Discount Furnishers en Spoton Cartriges vasgejaag en groot skade aangerig het.

Dit lyk of die verdagte voor die ongeluk, beheer oor die bakkie verloor het terwyl hy teen ‘n hoë spoed gery het.

Die bakkie, wat tydens ‘n voorval in Hoedspruit by een van die Plaaswaglede, Wynand Roos, gesteel is, is ‘n totale wrak. Dit is sy persoonlike bakkie wat hy vir werksdoeleindes gebruik.

Die hele drama het vroeër die nag in Hoedspruit begin.

Die verdagte het volgens Pieter Papsdorf van Hoedspruit Medical Rescue, ‘n voertuig van sy familie op Acornhoek, sonder hulle toestemming geneem. Hulle het blykbaar vulstasies in die omgewing gewaarsku om nie vir hom brandstof te gee nie, aangesien hy nie met die voertuig mag ry nie.Hy het gery tot by die Blydesentrum en daar die voertuig dwars oor die pad getrek met die doel dat daar ‘n voertuig sou stop. Hy het ook verskeie kere na die winkel gegaan om vuurhoutjies te koop en die voertuig aan die brand gesteek.

‘n Jong paartjie wat agter die sentrum bly, het iets soos geweerskote gehoor en gaan ondersoek instel met hulle bakkie. Terwyl die man probeer vasstel wat aangaan by die brandende voertuig, wou die verdagte sy bakkie met die vrou steeds daarin, steel. Sy het gegil en hulle kon daarin slaag om weg te kom.

Wynand Roos wat by die Hardings op Hoedspruit werksaam is en ook lid van die Plaaswag, was besig met patrollie toe hy op die toneel afkom. Hy het uitgeklim om vas te stel of daar ander mense in die brandende voertuig is. Die verdagte het in sy bakkie geklim en weggejaag. Intussen het Dawie van der Merwe, ook lid van die Plaaswag gehoor dat die brandstofdepot aan die brand is en gaan ondersoek instel.

Hy het op die toneel afgekom en die verdagte in die bakkie onmiddellik agterna gesit en sê dat hulle met tye tot 180km per uur gejaag het.

Mario van Rooyen, Rujaan Stolp en Heinrich Bredenkamp, ook lede van die Plaaswag is ook in twee aparte voertuie agterna. Papsdorf was deurgans per radio en telefoon in verbinding met die Plaaswaglede wat die verdagte agtervolg het.

Jane de Pradines, sekretaresse van die Hoedspruit Plaaswag was deurgans in verbinding met die polisie.

Lede van Watchdog het ook bystand op die toneel in Tzaneen verleen.

Die verdagte is na die ongeluk in Tzaneen na Van Velden hospitaal geneem waar hy onder polisiebewaking is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button