Lifestyle

Isolde groet haar geliefde Vossies na 36 jaar

Al het Isolde Fasondini einde Mei finaal die tuig by Vossies neergelê, is daar geen tyd vir stilsit nie.

“Ek het soveel planne en wil so baie doen,” het dié fisiese wetenskaponderwyser wat vir 36 jaar verbonde was aan Die Hoërskool Ben Vorster aan die Herald vertel. Gelukkig is haar ervaring en kennis darem nie heeltemal verlore vir die onderwys nie. Sy gaan as interne moderator vir fisiese wetenskap by die departement van basiese onderwys aanbly, ‘n aanstelling wat haar deeltyds tot en met 2024 gaan besig hou.

Hoewel Isolde in Namibië grootgeword het waar sy in Duits skoolgegaan het, het die gesin in haar graad 7-jaar na die “republiek” verhuis. Hulle het hul ‘n jaar later in Magoebaskloof gevestig. Sy was op Capricorn in Polokwane op skool. Tuis is daar Duits gepraat. Na matriek is sy Wits toe waar sy met ‘n onderwysbeurs ‘n BSc Honneurs in fisika verwerf het; asook ‘n hoëronderwysdiploma (HOD).

In 1982 is sy by Lowveld High School in Nelspruit aangestel waar sy haar man, Mario, ontmoet het. Hulle is getroud en in April 1986 het hy ‘n aanstelling by die Vossies as departementshoof aanvaar en sy het saam met hom na Tzaneen teruggekeer. “Ek het nie die vakterminologie in Afrikaans geken toe ons hier aankom nie, maar moes vinnig leer.

“Ek het vir die laaste twintig jaar net vir matrieks klas gegee,” vertel sy. “Ek weet ek het ‘n reputasie as ‘n streng onderwyser, maar kinders wat probleme ondervind het dikwels my raad en bystand opgesoek,” vertel sy. “Oor die jare het ouers ook vriende geword en het hulle dikwels met my geklankbord wanneer hulle voor struikelblokke te staan kom.”

Also read: Hoop op verhoogde damwal

Van haar moeilikste tye en beste tye was by Vossies. “Na my man se selfdood was dit ‘n baie onseker tyd. Ons was koshuisouers en ek het nie geweet of ek sal kan aanbly nie. “Maar met die ondersteuning van goeie vriendinne wat my weer leer lag het, en natuurlik my twee seuns, kon ons vasbyt.” Vandag is haar oudste, Mario, ‘n ingenieur by Sasol.

Hy is getroud met twee kinders en sy kuier graag op Secunda waar die gesin woon om haar kleinkinders te sien. Haar jongste seun, Marco, het sy doktorsgraad in toegepaste wiskunde behaal toe hy net 26 jaar oud was. Hy werk tans by een van Engeland se voorste universiteite en reis dikwels om sy navorsing as postdoc-genoot by konferensies aan te bied. Sy sê ‘n mens kan nie ‘n goeie onderwyser wees as jy nie lief is vir kinders nie.

“Kinders onthou nie regtig wat jy hulle geleer het nie, hulle onthou jou as persoon, die humorsin. As onderwysers het ons ‘n reuse-invloed op hul vormingsjare wat by die meeste mense bly tot in volwassenheid.” Sy noem fisiese wetenskap ‘n wrede vak. “Jy verstaan dit, of jy verstaan dit nie, en dis swaar om ‘n kind te sien sy of haar beste probeer sonder resultate,” sê sy. “Maar dit ook lekker om die liggie in ‘n leerder se oë te sien aangaan wanneer hulle skielik ‘n moeilike begrip verstaan.”

Nou sien sy vir eers uit na die vryheid wat aftrede haar bied om haar belangstellings uit te leef. “Ek het verlede jaar by UCT ingeskryf vir ‘n kursus in redigering en wil by die Editor’s Guild aansluit. “Ek beplan ook om ‘n toeristegidskursus te doen en omdat ek nog altyd so ‘n noue verbintenis met die berg het, wil ek graag besoekers ons besienswaardighede wys,” gesels sy. “Ek het ook ‘n ereveldwagter geword en wil baie tyd in die Kruger-wildtuin bestee.”

Haar raad vir ‘n lang en suksesvolle onderwysloopbaan is dat jy nie moet stagneer nie. “Ek het onder energieke en dinamiese hoofde gewerk wat vir my ‘n voorbeeld was. Ook die ongelooflike gemeenskap van Tzaneen was altyd ‘n steunpilaar en daarvoor is ek  dankbaar,” sluit Isolde af.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button