Local newsNewsSchools

Letaba delf net-net die onderspit

Letaba se eerstespan het hierdie naweek uitgedraf teen 'n baie sterk span van Nelspruit.

Letaba se eerstespan het hierdie naweek uitgedraf teen ‘n baie sterk span van Nelspruit.

Die span van Nelspruit is groot, sterk en uiters professioneel en spelers lyk asof hulle almal so pas uit die gimnasium gestap het. Daar is ook verskeie spelers in hulle span wat reeds vanjaar in die Puma’s se oefengroep was.

Na Letaba se teleurstellende vertoning die vorige naweek, wou die spelers wys dat hulle met trots en passie rugby kan speel en hulle het verwoed onder die manne van Nelspruit ingeklim.

Tydens seker een van die hardste wedstryde die afgelope paar jaar in Tzaneen, het Letaba net-net die onderspit gedelf met 14-8.

Dit was ‘n taai wedstryd en die bloed het letterlik gevloei.

Noodhulpbeamptes het oortyd gewerk en die skeidsregter het geelkaarte uitgedeel asof dit Kersfees was.

Letaba het die veel groter en swaarder skrum van Nelspruit laat knor en Nelspruit het gereeld die skrum laat val, opgeskrum, maar hier was die strafskoppe min in Letaba se guns.

Letaba het in drie skrums in ‘n ry onder die pale van Nelspruit, hulle skrum uitmekaar laat spat, maar was daar geen sprake van ‘n strafskop of ‘n strafdrie vir Letaba nie. Indien daar gekyk word in Superrugby hoe strafskoppe by die skrums gegee word, kan Letaba hulle uiters ongelukkig ag om nie voordeel te gekry het in hierdie aspek van die spel nie.

Daar moet spesiale melding gemaak word van Letaba se voorry, Picasso Coetzer, JP Schwarz, Beast Mushwana en later Thulani Mathonsi wat hulle teenstanders behoorlik opgedreun het. Hulle is goed ondersteun deur die slotte, Eben Fichardt en Marnus Labuschagne.

Letaba het vroeg hulle ster-flank, Glen Mafumo as gevolg van ‘n besering verloor en sy plaasvervanger, Jannes van Loggenberg, het self beindruk.

Kaptein, Sven Hedin was aan die voorpunt van Letaba se verdediging en hy het menige belowende aanvalle van Nelspruit gestuit en is goed ondersteun deur agsteman, Willem Snyman, wat nou net fiks moet word.

In die agterlyn was Slang Sibanda sy teenstander oor en na ‘n lelike rassistiese aanmerking, weet die losskakel van Nelspruit wat die term, die bus is vol, beteken, nadat Sibanda bo-oor hom is.

Plaasvervanger, Ruan Roets, het self ‘n skitterwedstryd gespeel en hy is beloon met ‘n drie.

Losskakel, Gom Bvuma, was effens siek maar het sy kant gebring en ook geslaag met ‘n strafskop.

Die vleuel, Alec Mhlanga, het ook gewys waarom hy so hoog aangeslaan word en die skrumskakel, Henke Snyman, het die agterlyn weer eens flink weggestuur.

Dit was ‘n veel beter vertoning deur Letaba en met die harde wedstryde wat hulle gespeel het voor die liga begin, hoop Letaba vir ‘n goeie seisoen.

Letaba speel hierdie naweek nie ‘n wedstryd nie en daar word gesoek na nog vriendskaplike wedstryde voor die liga in Mei-maand begin.

Die volgende wedstryd sal in Letaba Herald bekend gemaak word.

Related Articles

Back to top button