Local newsNews

Dam se sluise is oop

Die Tzaneendam se sluise is oop na groot volumes water die afgelope week ingevloei het.

Die tropiese storm Ex-Ana tesame met die La Niña-effek het gesorg vir dié groot neerslae. “Ons het die sluise Saterdag oopgemaak en het ons besproeiers laat weet dat groot volumes water deurkom, die Letsitelerivier het ook ‘n groot volume bygedra na die reën,” sê Jacque Kruger van die Letaba Waterverbruikersvereniging.

Kruger vertel dat daar Dinsdag 65 000 liter per sekonde, oftewel, 65 kumek (kilo liter per sekonde) water deur die sluise in die Letabarivier gevloei het en ook ‘n verdere 16 kumek inkom uit die Letsitelerivier. Pieter Vorster, voorsitter van AgriLetaba en ook uitvoerende hoof van Mahela Boerdery in Letsitele, het bevestig dat die sluise vroegtydig oopgemaak is om skade te voorkom.

“Ons boere is dankbaar en bevooorreg om in die posisie te wees wat ons tans in is, hier is bitter min damme in die Letsitele-vallei wat nog nie vol is nie,” beaam Vorster. “Ons by Mahela het min skade gehad, dis nie noemenswaardig nie. “Daar is wel spoelskade van paaie na lande tussen boorde, maar ons maak dit met ‘n glimlag reg,” vertel Vorster.

Die Ebenezerdam het sy walle oorstroom en seilbote by dié dam se klub het begin om rond te dryf.

Die afgelope week se neerslae het gesorg vir genot vir die dag-zero-damkykers, met die Tzaneendamvlak wat reeds op 103.85% gestaan het ten tye wat die Herald Dinsdag drukkers toe is. Dit na die dam in Desember 2020 op ‘n kommerwekkende 7.9% van sy kapasitieit was. Fanie Oberholzer, ‘n plaaslike finansiële beplanner wat as stokperdjie ook boekhou van daaglikse reënneerslae, het van 27 Januarie tot 31 Januarie altesaam 196.5mm by sy woning in Aqua Park gemeet.

Also read: Raising of dam wall still not finalised

“Dit is nou die rokspante van tropiese sikloon Ana wat ons getref het wat gesorg het vir die bogemiddelde reën,” vertel Oberholzer. Hy het rekords van die afgelope 74 jaar se daaglikse reën en het die volgende interessante brokkies gedeel: Vir Janaurie 2022 het Oberholzer ‘n totaal van 310mm gemeet.

Dit kan vergelyk word met die neerslae van Januarie 2021, toe die tropiese storm Eloïse aktief was, waartydens Oberholzer 389.7mm in totaal vir die maand gemeet het. Die natse Januarie in die 74 jaar periode wat Oberholzer op rekord het, was in Januarie 1958 toe ‘n yslike totaal van 783mm reën gemeet is. Die natste maand bly steeds Februarie 2000 toe 883mm reën geval het.

Luidens Oberholzer is die gemiddelde reënval oor die 74 jaar periode 920mm per kalenderjaar. Tot dusver het Oberholzer sedert 1 Oktober 2021 met die aankoms van die somerreënsseisoen tot hede 743mm gemeet. Goeie reën hou egter nie altyd net goeie nuus vir ons plaaslike landbouprodusente in nie.

Water vloei oor die walle van die Ramadipadam. Foto’s: Karen Engelbrecht en Benno Stander

Clive Garrett, bemarkingshoof van die tamatiereus, ZZ2, het bevestig dat daar tans ‘n tydelike tekort aan tamaties op die markte is. “Ons is altyd dankbaar vir goeie reën veral siende dat al ZZ2 se damme nog nie vol is nie, maar tamaties hou van sonskyn, veral tydens die rypwordperiode en die afgelope twee weke se wolksbedekking het gelei tot ‘n afname in produksie,” sê Garrett.

Hy voeg by dat daar met hoë reënval ook addisionele uitdagings is vir boere en werknemers om lande te bewerk, bespuit en te oes. Garrett is van mening dat ZZ2 se tamatieproduksie behoort egter binne die volgende week weer op te tel en dat die produksiesyfers ook weer sal uitewenaar oor ‘n jaarperiode.

Related Articles

Back to top button