CrimeEditor's choiceLocal newsNews

Stropers vermeerder daagliks

Daar is meer as 'n geraamde 5 000 renosterstropers wat langs die grense van die Krugerwildtuin woon – en hulle word daagliks meer!

Dis een van die talle interessante feite wat Genl (afg) Johan Jooste, Bevelvoerende Offisier, Spesiale Projekte in die Krugerwildtuin, Donderdagaand in ‘n aanbieding tydens die algemene jaarvergadering van die Phalaborwa Sakekamer by Bus Stop voorsien het.

Genl Jooste het in ‘n besonder interessante en boeiende aanbieding die uitdagings van renosterstropery uitgelig en terselfdertyd ‘n positiewe prentjie rondom die oorlog teen stropery gesklilder. “As ons die geveg teen renosterstropery in die Wildtuin verloor, verloor ons baie meer as net nog ‘n spesie – ons verloor ‘n stryd wat nooit gaan stop nie en onmeetbare skade vir ons nageslag inhou,” het Genl Jooste gesê.

Genl Jooste het die duur prys van renosterhoring uitgewys as die basis vir die groot uitdaging teen renosterstropery. Dit bring mee dat die misdaad sindikate miljoene rande beskikbaar het om gewone stropers te betaal en die proses van uitvoer en handel te finansier. Die meer as 5 000 geraamde stropers, wat rondom die Wildtuin woon, is werklose, arm mense wat nie omgee vir die gevare van stropery nie – solank hulle net ‘n geldjie verdien om vir hul gesinne te sorg. Bykans onbeperkte wapentuig, van elke denkbare kaliber en soort, is ook beskikbaar vir die stropers en daarom raak dit baie meer ‘n oorlog as net ‘n aksie teen misdaad.

“Ons sal nooit hierdie oorlog wen sonder die samewerking van die gemeenskappe aangrensend aan die Wildtuin nie. Gelukkig is daar altyd meer goeie mense as misdadigers. Daarom moet ons die goeie mense aan ons kant kry en hulle oortuig om ons van noodsaaklike inligting te voorsien. Dis die enigste kans wat ons het om die stropers te uitoorlê,” het hy gesê.

Hy het verduidelik dat die Wildtuin in drie dele opgedeel is om die stryd teen renosterstropery te bestuur. Eerstens is daar die Suide wat beskryf word as ‘n “Intensive Protection Zone”. Die meeste renosters kom hier voor en sowat 60% van begroting, logistiek en mannekrag word hier bestee. Die sentrale deel word beskryf as “Joint Protection Zone” en hier word sowat 30% van begroting spandeer terwyl die oorblywende 10% in die noorde, wat as die “Composite Protection Zone” beskryf word, spandeer word.

Genl Jooste het gesê die ondersteuning, nie net finansieël nie, maar op elke moontlike manier, van gewone burgers, die sakesektor, korporatiewe sektor, sportlui, vermaaklikheidskunstenaars, ens, is noodsaaklik om uiteindelik die stryd te wen. Sosiale media word deesdae ook meer ingespan en almal betrokke by die stryd teen stropery dink daagliks meer en meer innoverend om die misdadigers aan te keer.

Ten slotte het Genl Jooste gesê dat hy baie goeie steun van topbestuur in die Wildtuin, Sanparke en tot op ministersvlak geniet om hulle werk te doen en dat hulle positief is dat hulle hierdie oorlog gaan wen.

Related Articles

Back to top button