Editor's noteLocal newsNews

Hannelie se maer-word word haar gesond-wees

Wanneer Tzaneeners nou vir Hannelie van Niekerk sê sy lyk pragtig, antwoord sy: “Ek voel goed.”

Dié 58-jarige bekende inwoner en bestuurder van die OK Sugar Hill vertel sy het die afgelope jaar 40kg afgeskud met die hulp van Ulrike Bleuler, ‘n plaaslike dieetkundige. Sy noem haar maer-word-pad eerder ‘n gesond-word-reis. “Verlede jaar op 1 Oktober was ek by my jare lange dokter, dr. Ig van Rensburg. As diabeet was ek kort-kort in sy spreekkamer met een of ander kwaal.

Hy het vir my gesê ek moet gewig verloor anders gaan ek dit nie maak nie.” Hy het haar na Ulrike verwys en sy is maar bra skepties weg om haar te gaan sien. Só het ‘n jaar begin wat haar lewe heeltemal verander het. In Ulrike se spreekkamer vertel hulle saam aan die Herald van die pad wat hulle gestap het. “Na my evaluasie van Hannelie en met inagneming van haar mediese geskiedenis, het ons haar op die Opti Fast-program begin,” vertel Ulrike.

Hannelie voordat sy 40kg verloor het.

Dit bestaan uit maaltydvervangers om die dringendheid van orgaanvet aan te spreek. Ulrike sê dat elke kliënt se lewenstyl en behoeftes word op sy eie meriete oorweeg voordat ‘n eetplan uitgewerk word. Hannelie se aanvanklike streng plan is uiteindelik met ‘n maaltydplan vervang waarin sy geleer het hoe om gesond te eet. “Nou is sy in die laaste deel van die gewigsverliesprogram waar sy geleer het om gesonde, klein en gereelde etes te eet,” sê Ulrike. Lees ook: Food shopping tips for losing weight or eating more healthily

Bo is sy vandag.

Hannelie se metaboliese ouderdom was 72 toe sy verlede jaar by Ulrike begin het, vandag is dit 58 – haar ware ouderdom. Haar gewig het van 120kg na die 80kg gegaan wat sy vandag weeg Haar gesondheid het in so ‘n mate verbeter dat sy geen meer van die bloeddruk-, water- of slaappille hoef te drink nie. Sy het ook haar antidepressante gelos. “My ma is op 58 oorlede en ‘n jaar gelede het ek gevoel dat as ek sou doodgaan, sal dit ook maar reg wees. Ek het oud en moeg gevoel,” sê Hannelie. “Klante wat Sugar Hill besoek vertel my nou dat ek altyd afgekyk het, iets wat ek nie meer doen nie.

Hulle sê ek kyk nou op en gesels graag.” Hannelie is ‘n bedrewe perderuiter. “Dit was vir my ‘n verleentheid en afbrekend om met die hulp van ‘n leer op my perd te moes klim. Ek het so jammer vir hom gevoel. “Nou kan ek weer dit doen waarvoor ek baie lief is, sonder moeite,” gesels sy. Haar gewigsverliespad was nie altyd gelyk nie. “Ulrike het my dikwels moed ingepraat wanneer ek nie veel verloor het nie. Maar wanneer dit goed gegaan het, het ons saam gejubel!”   Ulrike sê dit is bevredigend om saam met iemand te werk wat sy of haar kant bring.

“Doelwitte in ‘n program moet realisties wees en aan die SMART (Specific, Measurable, Achievable, Realistic and Timely) beginsels voldoen. “Elkeen moet iets kry wat vir hom of haar werk. Ook die feit dat daar met tussenposes geweeg word, dus verantwoording gedoen word, maak ‘n verskil om aanvanklike goeie gewoontes te vestig. “Wanneer ‘n persoon min of niks verloor nie, kan ‘n mens saam uitvind wat gebeur het, dit is spanwerk.” Hannelie sê dat haar eetprogram haar ook op ‘n ontdekkingsreis gesit het om nuwe geregte uit te toets. “Ek eet al hoe lekkerder,” vertel sy.

Geestesgesondheid hou nou verband met gewig en gewigsverlies, sê Ulrike. “95% van serotonien (die chemiese boodskapper wat jou gemoed bepaal) word in jou spysverteringskanaal vervaardig,” sê sy. “Wanneer jy gewig verloor deur ‘n gesonde leefstyl, voel jy nie net beter omdat jy maerder is nie, jy vervaardig ook meer serotonien wat jou gemoed stabiliseer.” Maar uiteindelik het die gedeelde ervaring ook ‘n vriendskap geword, iets wat die twee vroue, een jonk en die ander in haar middeljare, vir altyd aan mekaar sal bind.  

Related Articles

Back to top button